Breedevallei-munisipaliteit se wetstoepassingseenheid in samewerking met ander rolspelers het die afgelope maand talle suksesse in die Breedevallei behaal.
Die munisipaliteit (BVM) asook lede van die plaaslike polisie, boubeheer, behuising, brandweer en immigrasie het verskeie ondernemings die afgelope maand besoek vir die toepassing van verskeie nasionale wette asook munisipale ordonnansies.
Die onderskeie ondernemings en organisasies is tussen 12 Oktober en 4 November besoek.
Sowat 46 winkels is in Worcester se sentrale sakegebied, De Doorns, Zweletemba en Avianpark besoek.
Altesaam 43 boetes van altesaam R55 500 is uitgereik. Die boetes is weens die versuim van protokol wat verband hou met brandveiligheid asook die besit van vuurwerke en ander onwettige produkte.
Die plaaslike boubeheerraad is tans besig om kennisgewings uit te reik aan eienaars van geboue wat nie aan die bouregulasies voldoen nie.
Immigrasie het ses mense in hegtenis geneem wat nie dokumentasie kon toon en ook nie op die stelsel van binnelandse sake gelys is nie.
Die polisie het ook op verskeie vuurwerke beslag gelê.
Plaaslike inwoners het ná hierdie optredes gemengde reaksies op sosiale media uitgespreek, terwyl talle die BVM en ander rolspelers geprys het. Baie was ook skepties en het gesê hierdie soort optredes moet voortdurend uitgevoer word.
“Welgedaan, BVM en kie. Dit is hoe dit gedoen word!” het Michael Meiring van Rawsonville geskryf.
Annelie Matthews het geskryf: “Is dit nie waarvoor hulle betaal word nie? Dit is mos eintlik hul werk, en moet elke dag gebeur. Ek gee toe dis wonderlik, maar dit moet deurlopend geskied en konsekwent deurgevoer word.”
Die BVM het in sy plasing ook die wetstoepassers sowel as die publiek vir hul harde werk en samewerking bedank en bygevoeg lede van die onderskeie instellings sal sulke optredes deurlopend uitvoer.





