Oudpresident Nelson Mandela sou gister, 18 Julie, sy honderdste verjaardag gevier het.
Om dié spesiale dag te gedenk, het die Jakes Gerwel-stigting en Tafelberg-uitgewers dit goedgedink om die kinderboek, Madiba Magic, weer uit te reik.
Die boek, met ’n versameling van Madiba se geliefde kinderstories, bevat magiese oerverhale van die Khoi-San en ander inheemse bevolkingsgroepe, stories oor vroeë seevaarders en verhale oor die onnutsige streke van die wesens wat in Afrika woon – tipiese stories wat Madiba vir die kinders, oor wie hy so erg was, sou vertel.
Madiba Magic sal binnekort by 15 skole bekendgestel word. Leerders sal vermaak word deur ervare storievertellers wat die boek deur voordrag, dans en musiek aan kinders toeganklik gaan maak. Tafelberg-uitgewers skenk ook boeke aan die skoolbiblioteke wat besoek word.
“Die Jakes Gerwel-stigting is ernstig oor die bevordering van lees en om jong kinders bloot te stel aan die wonder van boeke. Daarom is dit vir ons ’n groot voorreg om deel te wees van hierdie leesprojek,” sê Theo Kemp, uitvoerende direkteur van die Jakes Gerwel-stigting.