Court case
‘n Verkragter van Rawsonville is lewenslank tronk toe gestuur.

Enrico Claassen

Kort nadat hy met vriende op ’n plaas in Rawsonville gekuier het, het hy sy vriendin met wie hy in ’n romantiese verhouding was, se tienjarige dogter verkrag.

Dinsdag (25 November) is die 31-jarige verkragter in die Worcester-streekhof lewenslange tronkstraf vir die vieslike daad opgelê.

Die voorval het gebeur terwyl die meisie in Augustus 2022 saam met haar ma op die betrokke plaas, waar die man gewerk, gewoon het.

LEES OOK: Skok ná drie mans van Worcester in hof verskyn ná ‘aanrandings’

Op ’n aand in Augustus 2022 het die meisie in hul sitkamer op ’n rusbank gelê en slaap terwyl hy buite die huis saam met vriende gekuier het.

Na die kuier is hy terug by die huis in.

Die meisie het wakker geword toe die man haar mond toegedruk, haar ontklee en toe verkrag het.

Hy het haar met die dood gedreig indien sy enigeen van die voorval sou vertel.

Die meisie het niemand van die voorval vertel totdat sy en haar ma – ná ’n voorval van huishoudelike geweld – by haar tante in die Paarl gaan woon het.

Die meisie se tante het ’n gedragsverandering by haar opgemerk en haar daaroor uitgevra.

Sy het toe haar tante vertel van die verkragting wat ’n maand gelede in Rawsonville plaasgevind het.

Haar tante het haar [die meisie se] pa van die voorval vertel waarna hy op sy beurt die polisie gekontak het.

LEES OOK: Pa hét sy biologiese dogters kleintyd verkrag, bevind hof

Die beskuldigde is kort hierna in hegtenis geneem.

Hy het die verkragting ontken en volgehou niks het tussen hom en die meisie gebeur nie.

Cornelius Prinsloo, waarnemende streekhofaanklaer, het aan die hof gesê dat die beskuldigde die onskuld van ’n kind wat in sy sorg was weggevat het met gevolge wat sy vir die res van haar lewe saam het haar moet dra.

Volgens Prinsloo het die voorval gebeur teen ’n agtergrond van ‘n land waar oortredings van hierdie spesifieke aard nie net algemeen voorkom nie, maar manifesteer as ‘n knaende vrees in die agterkop van die meerderheid vroue en kinders in die land dat daar ’n statistiese waarskynlikheid is dat hulle kan opeindig as ’n slagoffer van geslagsgebaseerde geweld.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article