Agt jaar nadat ’n vrou dood is nadat sy erg aangerand is, is haar moordenaar gevonnis.

Carol Farao is op 24 Maart 2016 só erg deur David Stander aangerand dat sy haar bewussyn verloor het. Farao was ten tyde van die voorval 44 jaar oud en Stander was 59.

“Die beskuldigde het Farao die aand van 24 Maart 2016 aanhoudend geslaan en geskop totdat sy haar bewussyn verloor het. Sy is hospitaal toe geneem en weens die erns van haar beserings is sy onmiddellik na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Sy het egter op 26 Maart aan haar beserings beswyk,” sê AO Vathiswa Jacobs, ’n woordvoerder van die Worcester-polisie.

Die saak is eers as aanranding met die doel om ernstig te beseer geregistreer, maar is na moord verander toe Farao dood is. Stander is twee dae later weens die moord op sy lewensmaat in hegtenis geneem.

Stander is verlede week, in die ouderdom van 67, tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hy het die hof vir versagting gevra weens sy ouderdom, verskeie kwale en omdat hy glo die primêre versorger van ’n gestremde seun is. ’n Maatskaplike werker het ook ’n ligter vonnis aan die hof aanbeveel.

Die staatsaanklaer, advokaat Quinton Oosthuizen, het egter klem gelê op die feit dat Stander die einste seun buite in die koue gelos het op die aand wat hy Farao aangerand het.

Die landdros, Clifton Maseti, het die maatskaplike werker se aanbeveling van die hand gewys en die staat gelyk gegee.

Die hof het klem gelê op die intieme aard van die verhouding, die feit dat hy sy vertrouensposisie misbruik het, en tesame met die gesinsgeweld wat gepleeg is, het die hof dit as verswarend geag.

You need to be Logged In to leave a comment.