Enrico Claassen
‘n Man van Worcester is vroeër vandeesmaand in die plaaslike streekhof weens die moord op die 24-jarige Xavier Hess lewenslank tronk toe gestuur.
Die skuldige, Warren Hermanus (39), is ‘n verdere vyf jaar tronkstraf opgelê vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie. Dié vonnisse word tans samelopend uitgedien.
Die moord het op 29 Mei 2022 in Neethlingstraat in Roodewal, Worcester, plaasgevind. Luidens die klagstaat het Hess op die dag van die voorval saam met ‘n vriend gestap. Hulle het Hermanus verby hulle sien stap, met ‘n vuurwapen in sy besit.
Toe Hess en sy vriend se paadjies onderweg na hul onderskeie wonings skei, het Hermanus Hess verder af in die straat ingewag. Hess se vriend het toe vuurwapenskote hoor afgaan. Toe hy omdraai, sien hy hoe Hermanus vier skote op Hess afvuur.
Hermanus is op 4 Junie 2022 in hegtenis geneem nadat Hess se vriend hom op ‘n foto-identiteitsparade aan die polisie uitgewys het. Volgens Hermanus se getuienis het hy ten tyde van die skietvoorval saam met twee familielede by hul huis televisie gekyk.
Deur middel van deeglike kruisondervraging het die staatsaanklaer, Cornelius Prinsloo, inkonsekwent- hede en inherente onwaarskynlikhede in die weergawes van Hermanus en sy twee alibi’s uitgewys.
Prinsloo het dus aangevoer dat die weergawes van Hermanus se twee alibi’s bo redelike twyfel onwaarskynlik en vals is.
Hy het ter verswaring van vonnis aangevoer dat Hermanus nie net Hess se kind van ‘n lewe saam met sy pa beroof het nie, maar ook Hess se pa van ‘n seun beroof het.
Hy het aangevoer dat die enigste lewensvatbarevonnis vir dié koelbloedige moord met voorbedagte rade lewenslange tronkstraf is.
Prinsloo het voorts betoog dat die belange van die gemeenskap en die erns van die misdaad so ‘n swaar vonnis regverdig – ook sodat ‘n duidelike boodskap aan voornemende oortreders gestuur kan word dat die strafregstelsel dié wat koelbloedig moord pleeg, sal inhaal.





