’n Nege-en-dertig-jarige vrou se familie is diep getraumatiseer nadat haar man petrol op haar gegooi en dit aan die brand gesteek het.
Die voorval het Saterdag 15 Januarie tussen 16:00 en 17:00 gebeur. Familielede van die slagoffer is egter nie regtig seker wat daartoe gelei het nie.
“Volgens wat my susters en haar dogter se kinders vertel het, het die paartjie glo ’n woordewisseling gehad. Dit was nie ’n groot bakleiery nie. My suster het toe op die bank in die voorkamer gaan sit. Haar dogter het weer in die huis ingekom en kombuis toe gegaan. Skaars ’n minuut later het sy haar dogter hoor gil van die vlamme wat oor haar hele liggaam was,” verduidelik die tannie van die slagoffer.
Haar familie het haar in komberse toegedraai en, volgens die polisie se verklaring, het haar man water op haar begin gooi om die vlamme te blus.
“Ek het ná die gebeure by hul huis aangekom. Ons het onmiddellik die polisie en die ambulans gebel. Die ambulans het baie vinnig opgedaag en haar hospitaal toe geneem. Sy is die volgende dag deur die Thuthuzela-sentrum bygestaan. Die polisie het egter eers twee uur ná die voorval opgedaag. Ons was Maandag ook by die polisiekantoor omdat ons ontevrede was met hoe hulle dinge hanteer het.
“Ná ons besoek aan die polisie het dinge vinniger begin gebeur,” verduidelik sy.
Thuthuzela-sorgsentrums is eenstop-fasiliteite wat gesondheid, geregtigheid en ondersteunende sorg aan slagoffers bied.
Die proses dien ook as bewys-insameling wat gebruik word om die slagoffer se saak te versterk en vervolging te bespoedig saam met die nasionale vervolgingsgesag, ondersoekbeamptes en polisieverslae.
Die sentrum is by die Worcester-hospitaal geleë.
Die 38-jarige man is egter nog nie in hegtenis geneem nie, maar die slagoffer het wel ’n beskermingsbevel teen hom verkry.
“Hy het weggehardloop en kruip weg. Hy moet gekry word sodat hy sy kant van die saak kan kom verduidelik. Hul oudste seun, wat net 14 is, het alles gesien gebeur. Almal is erg getraumatiseer deur wat gebeur het.”
Die slagoffer gaan glo na Tygerberg-hospitaal oorgeplaas word.
“Sy het swelsel om haar lugpype gehad, maar dit het darem gesak. Die dokters het ook iets verduidelik oor haar niere wat aangetas is, en vanoggend (Dinsdag) is sy teater toe sodat hulle haar wonde kon ontsmet. Hulle het haar gereed gekry om oorgeplaas te word. Sy het brandwonde oor 50% van haar lyf opgedoen.”