Jacobus Petoors is skuldig bevind aan ontvoering, verkragting en moord op die agtjarige Reagan Gertse. Hy was uit op parool ná die verkragting en aanranding van ’n ander seun toe hy Gertse vermoor het.
Petroors is Woensdag 26 Januarie in die hooggeregshof twee keer lewenslange gevangenisstraf opgelê.
Die voorval het tussen 29 Februarie en 1 Maart voorverlede jaar in Tulbagh plaasgevind.
“Die hof het gehoor dat Gertse die oggend van 29 Februarie 2020 in die geselskap van Petoors gesien is. Tussen 17:00 en 18:00 daardie dag is hy weer in Petoors se geselskap gesien. Hy het nie die aand teruggekeer huis toe nie en sy gesin het bekommerd begin raak. ’n Soekgeselskap is gevorm en ’n soektog na die vermiste seun het gevolg. Dit is die oggend van 1 Maart hervat en sy liggaam is later in nabygeleë bosse gevind,” verduidelik Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag.
Petoors was tydens die voorval uit op parool vir die 2011-verkragting van ’n ander seun sowel as aanranding met die doel om ernstig te beseer. Sy botsing met die gereg strek so ver terug as 1983.
“Hy is op 17-jarige ouderdom in 1983 reeds vir sy eerste seksuele oortreding – sodomie – gevonnis. Hy het ’n soortgelyke oortreding in 1984 gepleeg. Sy mees onlangse verskyning, op die ouderdom van 55, was sy 11de skuldigbevinding in ’n hof, sy vierde skuldigbevinding vir ’n seksuele misdryf en sy sesde skuldigbevinding vir ’n geweldsmisdaad. Hy is op 24 Julie 2012 skuldig bevind aan die verkragting van ’n seun en aanranding met die doel om ernstige liggaamlike leed aan te doen, wat hy op 29 Oktober 2011 gepleeg het. Hy is tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis en het sewe jaar uitgedien, waarna hy in 2019 op parool vrygelaat is. Drie maande later het hy gruwelike misdade teen Gertse gepleeg,” het Ntabazalila gesê
Petoors het Gertse langs die pad raakgeloop en hom saamgenooi om by die rivier te gaan swem.
“In sy pleitverduideliking beken hy dat hy die NG kerk op 29 Februarie 2020 besoek het om sy gemeenskapsdiens te doen, wat deel van sy paroolvoorwaardes was. Hy het niemand by die kerk gekry nie, aangesien hy laat was. Toe hy terugstap huis toe, het hy Gertse gesien. Hy het die seun geken aangesien hy ’n paar huise van hom af gewoon het. Hy het Gertse geroep en gesê hy gaan later by die rivier swem, aangesien dit warm was. Hy beweer die seun het gevra om saam met hom te gaan,” lui die verklaring.
Op pad na die rivier het Gertse een van sy maatjies raakgeloop en wou toe eerder saam met hom gaan, maar Petoors het hom gedwing om steeds rivier toe te gaan.
“Die oorledene wou saam met die seun gaan, maar hy het geval. Petoors het hom gegryp, sy arm om sy nek geplaas en hom opdrag gegee om saam met hom te gaan. Toe hulle by die rivier aankom, het hy hom verkrag. Die oorledene het gevra om huis toe te gaan, maar Petoors het geweier om hom te laat gaan. Petoors het hom toe nader aan die rivier gesleep en sy kop in die grond gedruk totdat hy ophou beweeg het. Hy het toe sy liggaam opgetel en dit naby ’n paar bome neergesit met sy gesig in die sand. Hy is toe huis toe.”
Later het die oorledene se ma Petoors gevra waar haar seun is.
“Louisa Gertse het Petoors gekonfronteer oor waar haar seun is, maar hy het ontken hy weet waar hy is. Sy het vir hom gesê iemand uit die gemeenskap het hom saam met haar seun gesien.”
Petoors is die volgende dag, 1 Maart, in hegtenis geneem en die oorblywende 1 604 dae van sy 12-jaar-vonnis het summier in werking getree.
Petoors se vonnisoplegging is as volg: 12 maande tronkstraf vir ontvoering; lewenslange tronkstraf vir verkragting; en lewenslange tronkstraf vir moord. Die hof het beveel dat die vonnis wat vir die ontvoering opgelê is sal loop saam met die vonnis wat vir verkragting opgelê is.
Die hof het verder beveel dat die twee lewenslange vonnisse loop saam met die res van die vonnis van 12 jaar wat Petoors uitdien. Hy is ook onbevoeg verklaar om ’n vuurwapen te hê.




