Skaars twee jaar ná hul stigting het die Vryburger Omgeemense van Rawsonville reeds ’n lang lys projekte en uitreikaksies na die gemeenskap gebring.
Hierdie diensorganisasie is in Mei 2014 op die been gebring toe Tertius Griessel, wat by die Vryburger Omgeemense van Worcester was, besef het daar is ’n leemte op Rawsonville, waar sy neef Jacobus Griessel toevallig ook vandaan kom.
Die manne het dit sedertdien reggekry om slegs die tweede tak Vryburger Omgeemense te word om ’n winkel te open waar enige tweedehandse ware onder die son verkoop word. Dit is nie net ’n plek waar mense die ou goed waarvan hulle ontslae wil raak, kan aflewer nie, maar bied ook aan minder gegoede mense ’n plek om gehalte-items teen pryse so laag as R10 of R20 te koop, en bring weer geld in om aan projekte te bestee.
Een van die organisasies se instellings is die kwartaallikse braai vir die inwoners van Huis Lafras Moolman, sê Kobus Smit, huidige stuurman. “Ons eet ook saam met hulle. Dit gaan oor kameraadskap met die oumense,” sê Smit. Hy vertel van die genoegdoening op die inwoners se gesigte as hulle om ’n vuur kan sit en ’n braaibroodjie en ’n stukkie rib eet.
Hulle het ook witborde aan Hoërskool Goudini geskenk om onderrig te vergemaklik, 40 Living Ball-rugby- en netbalballe geskenk en ’n aantal behoeftige koshuisleerders geïdentifiseer wat ’n bedrag gekry het om toiletware mee te koop. Ná die Junie-skoolvakansie sal ook begin word met die uitdeel van sop en brood elke Maandagoggend.
’n Nasionale projek saam met Shoprite Checkers het ’n biblioteek met 2 000 boeke meegebring, ’n noodfonds is verlede jaar begin sodat komberse en blikkieskos veral in die wintermaande aan behoeftige inwoners geskenk kan word en na aan 200 Bybels is die afgelope tyd uitgedeel.
Smit en Griessel sê hulle wil graag hê mense moet sien dat die geld wat ingesamel word, behoeftige mense bereik. “Ons moet 90% van alle geld wat ons insamel, uitgee.”
Om al hul werksaamhede te kroon, is die Vryburger Omgeemense van Rawsonville in hul eerste aktiewe jaar as die opkomende korps van die jaar in Suid-Afrika aangewys. “Dit kon ons doen net deur die gemeenskap se hulp en betrokkenheid,” sê Smit.
Enigeen wat die Vryburger Omgeemense van Rawsonville wil ondersteun, kan Kobus Smit by 082 412 9311 bel of Niel Brink by 082 828 1207. Inwoners word gevra om veral die winkel aan die gang te hou deur voorraad te skenk, maar ook om die organisasie te laat weet van nood in die gemeenskap. “Ons help graag,” sê Smit.
Intussen kan belangstellendes solank 7 Oktober in die dagboeke merk vir ’n dans wat as die groep se grootste geldinsameling vir die jaar dien.