’n Vrou van Touwsrivier sukkel al maande om antwoorde uit die departement van arbeid (mannekrag) te kry oor die werkloosheidsversekering wat aan haar verskuldig is.
Martha Magdalena Ellis sê sy wag sedert Augustus 2021 vir ’n antwoord nadat sy verlede jaar, ná haar man se dood, aansoek gedoen het vir WVF-voordele.
Sy sê daar is baie mense waarvan sy weet wat dieselfde probleem het as waarmee sy sit.
Volgens Ellis kom twee mense weekliks van Worcester na Touwsrivier om die inwoners daar te help met hul WVF en arbeidskwessies.
“Hier in Touwsrivier is baie mense wat op hul WVF-geld staatmaak, maar dit word nie uitbetaal nie. Die twee mense wat elke week vir ons van Worcester se kantoor help, is bedagsaam en hulle help, maar dit lyk asof diegene in Worcester nie wil help nie,” sê sy.
Sy sê sy moes telkemale self na Worcester reis om te hoor dat haar geld nog nie uitbetaal is nie.
“My dogter het meer op hul webtuiste probeer uitvind hoe die uitbetalings werk, maar kon niks uitrig nie. Mannekrag laat ons in die steek, want nou moet jy die hele dag in ’n lang ry staan en hoor die stelsel is van lyn af,” sê Ellis.
Standard het die kantoornommer vir die departement van arbeid in Worcester verskeie kere probeer bel, maar dit lui net.
Navraag is toe per e-pos na ’n persoon gestuur wat glo die bestuurder van die Worcester-kantoor is, maar geen antwoord is ontvang nie. Die koerant het toe ’n persoon by die provinsiale kantoor opgespoor wat gesê het die persoon is lankal nie meer by die Worcester-kantoor nie. Hy het aan die koerant dieselfde nommer gegee wat reeds vantevore geskakel is, asook die nuwe bestuurder se nommer, maar selfs daardie nommers het net aanhou lui.
Van die vrae wat Standard wou vra, is:. Is daar ’n tydperk wat mense moet wag voordat hulle hul WVF-voordele kry?. Watter dokumentasie moet mense hê wanneer hulle aansoek om WVF-voordele doen?. Hoeveel mense kan die departement per dag in Worcester help?. Waarheen kan mense hul klagtes en navrae stuur oor die departement se kantoor in Worcester?




