De Kruine Sekondêre Skool in Touwsrivier se matriekklas van 2018 het vanjaar ’n nuwe tradisie begin wat moontlik dekades sal bly.
Die matrikulante – altesaam 94 van hulle – het ná hul laaste eksamenvraestel Maandag 26 November hul skooldrag op hul skoolbanke agtergelaat en dit aan die skool se klerebank geskenk.
Die leerderraad van 2018 het met dié idee vorendag gekom.
Romeo Dondas, wat die projek help reël het, sê die idee spruit uit ’n klerebank wat die groep vroeër vanjaar gestig het.
“Ons het die nood in die gemeenskap raakgesien en besluit om uit te gaan en ’n verskil te maak. Dis hoekom ons die klerebank gestig het. Die skooldrag gaan aan die klerebank geskenk word vir leerders wat dit nodig het.”
Dondas hoop die volgende leerderraad sal die klerebank en dié nuwe skooldragtradisie volhou.
“Ons groep hoop die volgende leiers sal daarop voortbou, want die omstandighede op Touws sal nie vinnig verander nie en dis goed om die leerders te help waar ’n mens kan. Ons groep, Catelin Nicholas, Cardia Vis en Davida Jaftha, het hard gewerk om ’n verskil te maak en ons het ons doelwit bereik.”
Die hoofopsiener by die matriekeksamen, die leerderraadvoog Eva Human, sê sy was skepties toe die matrieks die oggend met hul matriekbaadjies en gewone drag vir hul eksamen opdaag.
“Ek het gewonder wat gaan dan nou aan, maar toe ek sien wat die doelwit was, was ek stomgeslaan. Touwsrivier is ’n dorpie wat swaar trek en mense is afhanklik van seisoenwerk. Mense het dit nie altyd so breed nie. Dit was die wonderlikste prentjie ooit toe ek sien die leerders help hul medeleerders,” voeg sy by.
Die leerderraad het Human, die Trailblazer-kamp en die matriekklas van 2018 wat die projek so ’n sukses gemaak het, bedank.