Op die foto is Mike Mgajo (direkteur: gemeenskapsdienste), Tertuis Simmers (Wes-Kaapse minister van infrastruktuur), Dorina Conradie (een van die begunstigdes), Schalk van Eeden (uitvoerende burgemeester) en Marsha Brown (bestuurder: behuisingsadministrasie).

Huiseienaars het dit nou uiteindelik op skrif – hierdie woning behoort nou aan hulle!

Sowat 100 mense het vroeër vandeesmaand die titelaktes van hul huise in die Mountain View-behuisingsprojek in Bonnievale ontvang.

Die Wes-Kaapse minister van infrastruktuur, Tertuis Simmers, tesame met die uitvoerende burgemeester van die Langeberg-munisipaliteit, Schalk van Eeden, het die eerste van die nuwe titelaktes op Dinsdag 7 Oktober oorhandig.

Die projek bestaan uit 623 eenhede.

Die volle eienaarskap van dié eenhede bied ‘n groot mate van sekuriteit aan die inwoners, omdat dit die eienaars se finansiële groei ‘n hupstoot kan gee.

Munisipale beamptes het tydens die oorhandiging aan die begunstigdes verduidelik hoe hulle die titelaktes veilig kan hou en wat hulle moet doen as hulle nodig het om dit te vervang.

Die ander begunstigdes is aangemoedig om die munisipale kantoor te besoek om hul titelaktes af te haal.

You need to be Logged In to leave a comment.