Met 8 A’s wil sy dokter word

Astrid Bothman, van HTS Drostdy, was aangenaam verras toe sy die oproep ontvang met die nuus dat sy as een van die top-10-presteerders in die Wes-Kaap aangewys is.


Astrid Bothman, van HTS Drostdy, was aangenaam verras toe sy die oproep ontvang met die nuus dat sy as een van die top-10-presteerders in die Wes-Kaap aangewys is.

Astrid het 95% en agt onderskeidings in die eindeksamen behaal.

“Ek was regtig geskok. Hulle het my die Sondag gebel en toe vra ek my ma om te antwoord, want ek dink as ek die foon sou antwoord sou ek nie ’n woord kon sê nie. Ek was oorstelp van vreugde toe ek by Leeuwenhof (waar eerbewyse aan die Wes-Kaapse toppresteerders oorhandig is) was, en dit was een van die doelwitte wat ek vir myself gestel het verlede jaar.

“Die realiteit van dié aanwysing het eers op pad huis toe ingesink, want ek kon nie ophou glimlag nie,” het sy aan Standard vertel.

Astrid gaan vanjaar medies aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Sy sien vreeslik daarna uit om nuwe mense te ontmoet.

“Ek wou nog altyd ’n dokter word en ek wil met die gawes wat ek gekry het met dié beroep ander mense help. Ek het eers gewik en weeg of ek ’n dokter of ’n rekenmeester wil word, maar het besluit op medies,” het sy gesê.

Astrid voeg by dat ’n goeie balans tussen leer en ontspan gehandhaaf moet word wanneer jy eksamen skryf.

“Jou voorbereiding vir jou eindeksamen begin al van kleins af. Ek is baie honger vir kennis en sal die ekstra myl gaan om meer te weet. Ek het baie vraestelle uitgewerk in die eksamentyd en het ook ander gehelp. Dit help baie as jy self ’n konsep verstaan en dit aan ander verduidelik.”

Sy sê matriekleerders moet prioritiseer wanneer dit kom by die eksamen en jou matriekjaar.

“Leerders dink hulle het baie tyd om alles te doen, maar jy het nie. Ek self wou aan ’n hele paar goed deelneem, tot my ma vir my gesê het ek kan nie. Jy moet prioritiseer en dink aan wat die beste vir jou gaan werk,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.