Met vyf onderskeidings wil Madelein graag hoog vlieg

Madelein de Kock, wat die topmatriek­leerder by Hoërskool Tulbagh in die 2017-matriekeksamen was, sê sy is gereed “om te vlieg” hierdie jaar.


Madelein de Kock, wat die topmatriek­leerder by Hoërskool Tulbagh in die 2017-matriekeksamen was, sê sy is gereed “om te vlieg” hierdie jaar.

Madelein het vyf onderskeidings in die eindeksamen behaal en het ’n gemiddelde van 84,9% gekry.

Sy sê sy gaan hierdie jaar daarop fokus om haar private vlieglisensie te kry.

“Wanneer ek dit het, wil ek daarna my kommersiële lisensie kry en dan daarop fokus om my lugdiensvliegtuig­lisensie ook te kry.

“Dan kan ek vir enige lugredery werk,” het sy gesê.

Sy het al sedert graad 6 ’n liefde vir vliegtuie.

“Ek weet nie hoekom ek so ’n groot liefde vir vlieg het nie, maar dit is wat ek vir die res van my lewe wil doen,” het sy gesê.

Madelein sê sy het gedurende die 2017-matriekeksamen baie hard gewerk om goeie uitslae te kry.

“Ek het van die begin van die jaar af op datum gebly met al die skool­werk. Ek het ’n goeie ondersteuningsnetwerk gehad en ek het vir hulp gevra as ek nie iets verstaan het nie. Wat my ook deur die eksamen gehelp het, was my vertroue in die Here.”

Madelein voeg by dat matrieks hul matriekjaar ten volle moet geniet, want “dit gaan so gou verby”.

“As ek raad kan gee aan die matrieks, is dat jy met ’n oop gemoed die jaar binnegaan asook om nie te veel te stres nie.

“Doen jou deel wat van jou verwag word,” het sy gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.