Min tyd oor vir permanente oplossing vir Ashton-fabriek

Langeberg and Ashton Foods.


Die toekoms van Langeberg and Ashton Foods se inlegfabriek is steeds in die weegskaal met produsente wat op hete kole wag om nog beleggers nader te hark sodat hulle die fabriek by Tiger Brands kan koop.

Sowat 150 produsente het ’n koöperasie gestig in die hoop om die fabriek te verkry en die sluiting te verhoed.

Volgens Jacques Jordaan, die uitvoerende hoof van die Inmaakprodusentever­eniging (IPV), is ’n moontlike belegger besig met ’n omsigtigheidsondersoek waarvan die uitslag in Maart of April bekend sal wees.

Tiger Brands het in 2020 aangedui dat hy die sagtevrugtebedryf wil verlaat en in Junie 2022 aangekondig dat die fabriek gesluit gaan word. Die produsente het aangebied om die fabriek te koop, maar dit was ’n uitdaging om die nodige finansiering te bekom. Tiger Brands het uiteindelik ’n sperdatum van einde Maart vanjaar gestel, maar wil dit eerder verkoop as om die deure te sluit.

Die sluiting van die inlegfabriek sal groot gevolge vir Ashton en die breër omgewing inhou. Sowat 250 werkers is permanent in diens en 4 000 werkers het seisoenale werk. Die fabriek is een van die Langeberg-munisipaliteit se grootste kliënte en sy sluiting sal hul inkomste beïnvloed. Sowat 300 boere lewer vrugte aan die fabriek.

“Die boere is nou besig om te oes en dit lyk mooi. Hul kwotas is drasties gesny, maar hulle het vroeg in die seisoen geweet en kon alternatiewe markte soek,” het Jordaan gesê. “Hierdie perskes kan nie uitgevoer word nie en boere moet kyk na ander opsies soos om dit te droog. Inmaakvrugte se raklewe is kort, omdat dit optimaal ryp moet wees kort voordat dit ingemaak word.”

Dit is die grootste inmaakfabriek in Suid-Afrika en een van slegs twee.

“Die impak op die omgewing sal baie groot wees en almal hou asem op. Die boere wat aan die fabriek lewer, plant sowat 2 000 hektaar vrugte. Indien hulle hierdie hektare met ander gewasse, soos druiwe of pruime, moet vervang, sal dit op sy beurt weer ’n groot uitwerking op daardie markte hê,” het Jordaan gesê.

Volgens die fabriek se webwerf word hul produkte onder die Gold Reef- en Silverleaf-name of supermarkte se eie name bemark en word dit oor die wêreld heen verskeep. Benewens ingelegte vrugte word puree-konsentrate, wat gebruik word vir sap, konfyte, babakos, souse en lekkers, ook vervaardig. Die vrugte wat in die Suid-Afrikaanse staatmaker, Mrs Balls Chutney, gebruik word, het ook hul oorsprong in die fabriek.

Daniël Lubbe, die munisipale bestuurder van die Langeberg-munisipaliteit, het gesê die fabriek is een van die grootste bydraers tot die plaaslike ekonomie – nie net wat betalings vir munisipale dienste betref nie, maar ook werkskepping.

“ ’n Groot aantal van ons boere verskaf vrugte vir verwerking vir die plaaslike en internasionale mark. Dit is absoluut krities vir die plaaslike ekonomie dat ’n suksesvolle ooreenkoms bereik word waar die kommersiële boere en werknemers die Langeberg and Ashton Foods-fabriek kan koop en as ’n koöperasie bedryf,” het hy gesê.

“Die sluiting van die fabriek moenie eens ’n opsie wees nie, want dit sal tot grootskaalse werkloosheid en armoede tot die nadeel van Ashton, die munisipaliteit en die landbou-sektor wat aan die fabriek lewer, lei.”

You need to be Logged In to leave a comment.