Die impak wat ’n uitstekende hoof op ’n leerder het, moet nooit onderskat word nie.
Hier word verwys na Joey Stynder, oudhoof van Worcester Sekondêre Skool. Ons as oudleerders wil hom graag vereer:
’n Skat, want dit is wat u in ons hartkamers is.
Uitmuntende skoolhoof, wat soveel diversiteit van leerders in spesiale rolspelers in die gemeenskap met u unieke pedagogiek kon omskep.
Baanbreker, want u het dit moontlik gemaak dat die WSS [1985], die eerste kunste-fokus-skool in die distrik, sy deure kon open.
As oudleerders van WSS deel ons ’n rype geskiedenis en die mooiste herinneringe, waar die eerste matrieks in 1985 die verhoog betree het. Onder ons oudleerders is daar ’n saambindende band wat ons altyd sal verenig en dit is ons alma mater. Ons bloed is blou, maar natuurlik staan Mnr. Stynder uit as sentrale figuur; ’n unieke mens wat soveel gedoen het om net die beste te gee en te word.
Wat Mnr. Stynder as skoolhoof en opvoeder laat uitstaan het, is die wyse waarop hy met ons omgegaan het. Almal is dieselfde behandel en Mnr. Stynder het te alle tye konsekwent opgetree. Hy was baie streng en ons het ons kwota straf ontvang, maar dit is met waardigheid en goeie rede toegedien.
Akademie moes nagestreef word.
Ons is ewig dankbaar aan alle opvoeders wat ons onderrig en soveel in ons belê het. Daar was te alle tye wedersydse respek tussen ons en Mnr. Stynder in ons daaglikse omgang met mekaar. Wie kon nou daardie safaripak en lang sokkies langs die atletiekbaan vergeet? Ook in sy persoonlike lewe het hy ’n uitstekende voorbeeld gestel. Mnr. Stynder het nie net gepraat nie, maar ook gelei. Wat werklik merkwaardig is, is die feit dat ons tot vandag soveel respek vir hom het. Waar ons hom oral raakloop, sal hy altyd stop en ’n woord wissel – altyd beleefd en belangstellend.
Ons oudleerders wou ons hoof op ’n gepaste manier groet wanneer hy volgende jaar sy tuiste in Kaapstad sal maak. Soveel opgewondenheid was Saterdag 2 Oktober in die lug – van die oudleerders aangetrek in die replika-skooluniform en die oorspronklike skoolklok wat lui tot Mnr. Stynder se uitroep van die woning af waar hy “gekuier” het. Almal was bereid om te help en sommige het selfs uit Kaapstad gekom. ’n Drive-by is deur reën gekortwiek, en weens Covid-protokol is die nodige geleentheid geskep sodat Mnr. Stynder sy “kinders” se waardering kon aanskou met ’n kort seremonie, oorhandiging van geskenke en ’n laaste geseënde groet tot ons weer mekaar sal sien.
Ons wens hierdie wonderlike mens, Mnr. Stynder, net goedheid en guns in sy lewensjare verder saam met sy eggenote, Mev. Stynder, en hul kinders.
Ons waardeer u.
Ons bloed bly blou – Optima via Studia. Van u oud-leerders.