Terwyl Suid-Afrika met die Covid-19-pandemie worstel, is daar ’n ander pandemie wat ons inwoners, veral vroue en kinders, onderkry.
Geslagsgegronde geweld of GGG. Nes Covid-19 oorskry GGG en mishandeling alle grense, ongeag ras, geslag, kultuur of klas en dit beïnvloed nie net die persoon wat mishandel word nie, maar ook diegene rondom hulle.
GGG het sy oorsprong in historiese ongelykhede, byvoorbeeld toe vroue geheel en al van mans afhanklik was – vir nie net hul basiese behoeftes nie, maar ook vir vryhede soos om te kies met wie hulle sou trou of watter kerk hulle sou bywoon. Hoewel die woord “geweld” in die term geslagsgegronde geweld gewoonlik as fisiek van aard beskou word, neem mishandeling baie vorme aan. Dit kan fisiek, verbaal, seksueel, emosioneel, finansieel of struktureel of ’n kombinasie daarvan wees. Oortreders kan ook baie gedaantes aanneem en hoewel die meerderheid intieme bedmaats is, kan hulle ook kennisse, vreemdelinge en selfs instellings wees.
Meld geweld aan
Min van ons is bewus dat moderne slawerny steeds in ons samelewing voorkom en dikwels onder GGG veralgemeen word. Hierdie mishandeling neem die vorm van mensehandel aan, met die oog op seks en kinder- en dwangarbeid en huishoudelike diensbaarheid.
Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) veroordeel alle vorme van GGG. Om diegene wat geraak word te help, werk die munisipaliteit saam met ondersteuningsorganisasies in die distrik wat slagoffers help. Hierdie projekte behels onder meer bewusmaking van die kwesbaarste mense en die ondersteuning van opleidingsgeleenthede vir werkloses sodat hulle toegerus kan word om onafhanklik van hul mishandelaar te wees. Die KWDM streef ook daarna om GGG uit te wis deur aandag te skenk aan die maatskaplike euwels wat tot mishandeling lei deur vaardigheidsontwikkeling by jeugkampe en opvoedkundige uitstappies gedurende skoolvakansies aan te bied.
Skuilings en geriewe wat slagoffers huisves, word deur die skenking van verskillende versorgingspakkette ondersteun, soos die onlangse aflewering van sanitêre doekies aan Choose Life in Abundance in Ashton en Athlone House of Strength (Ahos) in die Paarl. Ons inwoners is waarskynlik bewus dat die voorkoms van GGG dramaties tydens die landwye inperking toegeneem het wat as gevolg van die Covid-19-pandemie ingestel is.
“Daar is ’n dringende behoefte in ons samelewing om ’n kultuur van nul-verdraagsaamheid teenoor alle vorme van GGG te kweek. Diegene wat geraak word, moet weet dat hulle nie alleen is nie, dat dit veilig is om hulp te kry en waar om toegang tot hierdie hulp te kry,” sê die uitvoerende burgemeester van die KWDM, dr. Elna von Schlicht.
Organisasies kan help
Dit verg baie moed om die stappe te doen om hulp te soek en ’n situasie van mishandeling te verlaat of om te praat as ’n daad van mishandeling teenoor u gepleeg is. Baie kan dit nie alleen doen nie. Wanneer die slagoffers wat gered is hul ervarings deel, sê hulle dikwels dat hulle in die situasie gebly het of dit nie aangemeld het nie omdat hulle gevoel het dat niemand hulle sou glo nie en dat hulle alleen sou wees en nie in staat sou wees om hulself en hul kinders te versorg nie.
Dit is algemeen bekend dat ’n groot aantal GGG-gevalle nie aangemeld word nie. Die KWDM wil inwoners verseker dat viktimisering en lyding nie hoef voort te gaan nie. Hulp is beskikbaar. Daar is organisasies en mense wat vasberade is om u te help om gered te word. Al wat u hoef te doen, is om hulp te ontbied.
Die GBV Command Centre (GBVCC) val onder die nasionale departement van maatskaplike ontwikkeling en funksioneer 24 uur per dag, sewe dae per week as ’n nasionale inbelsentrum, met 48 maatskaplike werkers wat verantwoordelik is om oproepe te neem. Tegnologie kan slagoffers geografies opspoor – met hul toestemming – om te bepaal watter hulpbronne die naaste aan hulle geleë is. Die sentrum kan oproepe direk na die naaste polisiekantoor en maatskaplike werkers in die veld verwys om hulp te verleen. As iemand nie ’n oproep kan maak nie, kan ’n “please call me” of ’n SMS gestuur word en daar is ook ’n Skype-opsie.
Die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling het die Victim Empowerment Programme (VEP) gestig ter ondersteuning van slagoffers en hul gesinne wat deur misdaad of geweld aan liggaamlike, geestelike of emosionele skade blootgestel is. In samewerking met hul vennote in die Wes-Kaap, bied die VEP dienste soos emosionele en praktiese ondersteuning; hulp met die hantering van trauma; om te verseker dat mense opgelei word om die simptome van posttraumatiese stres te identifiseer; verwysings na professionele dienste; die bevordering van die regte en verantwoordelikhede van slagoffers; om te verseker dat voortdurende viktimisering voorkom word; en die lewering van skuilingdienste.
skuilings
’n Skuiling is ’n veilige plek waar diegene wat deur misdaad en geweld geraak word vir ’n tydperk kan bly om hulp te ontvang.
Daar is tans vier skuilings in die Kaapse Wynland-distrik wat hierdie dienste lewer, naamlik Athlone House of Strength in Drakenstein, L’Abrie De Dieu Safehouse in Stellenbosch, Worcester House of Hope en Families Suid-Afrika (Famsa) in die Breedevallei. Almal behalwe Famsa bied beskutte behuising, terapeutiese ingryping, berading, ondersteuning, nasorg en dienste vir herintegrasie. Dienste vir maatskaplike werk is onder meer individuele berading, gevallestudies, groepwerk, verwysings- en ondersteuningsdienste aan slagoffers en hul gesinne (kind; vermeende oortreder) asook gemeenskapsuitreik met voorkoming as doel. Famsa is daarop gemik om veerkragtigheid in hoërisikogemeenskappe te bou met professionele personeel wat terapeutiese ingryping aan volwassenes en hul gesinne bied.
Die Thuthuzela Care Centre (TCC) word gelei deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en is ’n een-stop-plek wat as ’n kritieke deel van Suid-Afrika se strategie teen verkragting ingestel is. Die TCC’s werk binne openbare hospitale. In die Kaapse Wynland is ’n TCC in die Worcester-hospitaal werksaam en nog een sal binnekort in die Paarl-hospitaal ingerig word. Die sentrums skep ’n gerieflike en veilige omgewing vir slagoffers van verkragting. Hulle word stap vir stap deur die proses geneem – van die oomblik dat die verkragting aangemeld word totdat die saak deur die hof aangehoor word. Die TCC-span bestaan uit verteenwoordigers van die polisie, die provinsiale departemente van gesondheid, maatskaplike ontwikkeling en onderwys, die NVG en plaaslike nieregeringsorganisasies wat almal saamwerk om verdere trauma en sekondêre viktimisering te verminder, die koers van skuldigbevinding te verhoog en die tydraamwerk waarbinne sake afgehandel word, te verkort.
Almal moet betrokke raak
Hoewel daar mense en organisasies is wat tot hierdie stryd verbind is, is dit ’n stryd waarby ons almal betrokke moet raak.
Moenie stilbly nie. Meld dit aan!
Western Cape Women’s Shelter Movement: | 082 903 8739 |
Gender-based Violence Command Centre: |
0800 428 428 |
Polisie: | 10111 |
Kinderlyn: |
0861 322 322 |
South African National Human Trafficking blitslyn: |
0800 222 777 |
Departement van Maatskaplike Ontwikkeling: |
021 483 5045 |
TCC – Worcester-hospitaal: |
023 348 1294 |