Montana-leerder reik na die sterre

Hendré Jacobs, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Montana, is een van twee Suid-Afrikaanse leerders wat die land eersdaags by die 2019- United-ruimteskool (USS) gaan verteenwoordig.


Hendré Jacobs, ’n gr. 10-leerder aan die Hoërskool Montana, is een van twee Suid-Afrikaanse leerders wat die land eersdaags by die 2019- United-ruimteskool (USS) gaan verteenwoordig.

Die USS word jaarliks deur die Stigting vir Internasionale Ruimte-onderrig (Fise) in Houston, Texas, by Nasa aangebied.

Altesaam 50 leerders van 25 lande is gekeur om die USS in Julie vanjaar vir twee weke by te woon. Die leerders moet uitblink in wiskunde en fisiese wetenskappe en moet ’n groot belangstelling toon in ruimteverwante wetenskap en samestellings. Die leerders moet hul eie sending na Mars onder die leiding van mentors – onder wie ingenieurs, wetenskaplikes en kenners in die lugvaartbedryf – ontwerp.

Jacobs sê hy was opgewonde toe hy die nuus ontvang. “Ek was in absolute ekstase toe ek hoor ek is gekeur. Dit was nogal op my verjaarsdag – Woensdag 13 Februarie.”

Hy sê hy is nie die eerste in sy familie wat die program sal bywoon nie. “My neef het in 2013 gegaan. Dis toe ek besluit het as ek ouer is, wil ek ook gaan. Hy het my in kontak gebring met die mense wat dit koördineer.”

Jacobs sê hy stel al van jongs af in tegnologie belang.

“ ’n Groot deel van my familie is ingenieurs; ek self hou ook daarvan om goed te bou.”

Hy verduidelik waar die liefde vir die ruimte vandaan kom: “Ek het jare gelede ’n ruimte-uitstalling in Johannesburg bygewoon. Die uitstalling het so baie vuurpylmodelle gehad. Dit was interessant om te sien hoe alles in die ruimte werk.”

Buiten die ruimte het Jacobs ook ander stokperdjies. “Ek hou daarvan om foto’s te neem, en wanneer ek tyd kry, maak ek kort video’s. Ek hou ook van die fynere koffiemaak-kunsies.”

Jacobs sê waarna hy die meeste by die USS uitsien, is om saam met mense uit diverse kultuurgroepe te werk, die vliegtuigreis en om Nasa te besoek.

Dawie Diedericks, Montana se skoolhoof, sê die skool is baie trots op Jacobs. “Hendré is definitief iemand wat so ’n geleentheid verdien. Hy is lojaal en toegewyd.”

You need to be Logged In to leave a comment.