Multisensoriese tuin vir Worcester

Die Pionierkool vir Siggestremdes en die Hoërskool Branckenfell gaan saamspan om ’n multisensoriese tuin op Worcester tot stand te bring.


Die Pionierkool vir Siggestremdes en die Hoërskool Branckenfell gaan saamspan om ’n multisensoriese tuin op Worcester tot stand te bring.

Boonop sal besoekers aan die tuin ook binnekort deur middel van skandeerkodes (QR-kodes) na gedigte kan luister.

Dié twee projekte word saam met die Karoo Woestyn Nasionale Tuin (die Karootuin) en die Noordwes-Universiteit aangepak.

Twee bussies vol leerders en onderwysers van die Hoërskool Brackenfell het die naweek op Worcester as’t ware die “grondwerk” kom doen vir een van die projekte, naamlik die ATKV-Handevatprojek. Die twee skole gaan aan die einde van die jaar saam inskryf vir ’n kompetisie.

Die besoekers is eers geblinddoek en toe deur die skool begelei. Hulle is ook geleer om doelbal te speel.

Multisensoriese tuin

Saterdagoggend, in ’n yskoue wind, het die harde werk begin om die gedeelte waar die skool se ou kruietuin was, gereed te kry vir die skep van ’n multisensoriese tuin.

Die grond is geskoffel, bome en struike is uitgehaal en gesnoei en stukke los sement en bakstene is verwyder. In minder as twee uur het die ywerige leerders die tuin reggeruk en is dit nou reg vir die volgende fase waar kundiges van die Karootuin hulp gaan verleen, plante gaan skenk en plant.

Hulle sal ook in die toekoms help met die instandhouding van die tuin. Die skool sal op sy beurt die Karootuin raad gee vir die herontwerp van sy brailleroete.

Byderhand-tuinverseprojek

Die sensoriese aspek van die tuin gaan verder versterk word deur die aanbied van die Byderhand-tuinverseprojek.

Die projek is die inisiatief van die Vakgroep Skryfkuns en die ATKV-skryfskool van die Noordwes-Universiteit, Potchefstroomkampus.

Prof. Bernard Odendaal het reeds in Maart ’n werkssessie vir die skryf van gedigte by Pionierskool aangebied en leerders het gedigte wat betrekking het op die tuin, geskryf. Hierdie gedigte, asook bestaande kinderverse en gedigte van plaaslike digters, soos Floris Brown, gaan deur konkrete aanduidings met QR-kodes in die tuin aangebring word.

Die kode word met ’n QR-toepassing op ’n slimfoon geskandeer wat ’n mens in staat stel om die gedig op die Byderhandwebtuiste te gaan lees of luister. ’n Blinde persoon sal dus na die gedig kan luister en dit beleef op die spesifieke plek waaroor die gedig gaan.

Daar word beplan om die tuin se uitleg te begin rondom ’n paar bestaande gedigte. Leerders van Pionierskool het die Byderhand-tuinverseprojek by die Breytenbach-sentrum op Wellington besoek en is baie opgewonde dat dié projek by hulle skool gestalte gaan kry.

Die verteenwoordigers van die NWU het ook met die bestuur van die Karootuin vergader om die moontlikheid te ondersoek om die Byderhandprojek ook by hul beplande brailleroete te betrek.

You need to be Logged In to leave a comment.