Daar is goeie nuus vir diegene met ’n voorliefde vir swem of wat net daarvan hou om in die buitelug langs ’n swembad te ontspan – die openbare swembaddens in die Breedevallei sal Sondag 20 Oktober vir die publiek oopgestel word.
Dit sluit in die De La Bat-, Greystraat- Zwelethemba- en Touwsrivier- munisipale swembaddens.
“Ons spanne is besig om die finale operasionele instandhoudingswerk by geïdentifiseerde fasiliteite af te handel, en daarom is die fasiliteite nog nie vir die publiek oopgestel nie,” sê Chad Malgas, ’n woordvoerder vir Breedevallei-munisipaliteit (BVM).
“Ons beoog om die swembaddens amptelik vir openbare toegang op Sondag 20 Oktober te open.”
Volgens Malgas sal streng beheermaatreëls toegepas word om toegang te reguleer en te verseker dat onder meer gevaarlike items en onwettige middels nie na die persele gebring word nie. Sekuriteitspersoneel sal ontplooi word, terwyl opgeleide menseredders aan diens sal wees.
Volgens Malgas sal die swembaddens daagliks van 10:00 tot 18:00 vir die publiek oop wees. Toegang is R16 vir volwassenes en R8 vir kinders en studente (met studentekaarte).
. Intussen sê Daniel Lubbe, munisipale bestuurder van die Langeberg-munisipaliteit, dat die Robertson-swembad, dié munisipaliteit se enigste openbare swembad, reeds sedert 1 Oktober vir die publiek oopgestel is.
Volgens Lubbe is swembadpersoneel en tydelike werkers op die perseel ontplooi om skarebeheer toe te pas, toegang te monitor en ongemagtigde toegang te voorkom.
Hy sê geregistreerde veiligheidsdienste sal gedurende die spitsseisoen (15 Desember 2024 tot 15 Januarie 2025) by die swembad aan diens wees.
Volgens Lubbe moet kennis geneem word dat geen menseredders by die swembad ontplooi is nie en dat die publiek op eie risiko swem.
“Om personeel-instruksies te volg is die sleutel om almal se veiligheid te verseker, veral gedurende besige naweke en vakansies. Ouers en voogde moet altyd toesig hou oor kinders terwyl hulle swem.
“Bly waaksaam, veral as die swembad vol is, en meld onmiddellik enige verdagte- of skadelike aktiwiteit(e) by die swembadpersoneel aan.”
Lubbe sê die gebruiksure vir die swembad is Maandae tot Saterdae van 10:00 tot 18:00 en Sondae van 12:00 tot 18:00. Die toegangsfooi is R39 per dag vir volwassenes en R26 per dag vir kinders tot en met 17 jaar. ’n Seisoenkaartjie kos R535 en ’n maandkaartjie R317. Dit geld vir volwassenes en kinders.


