In wat beskou kan word as ‘polisiebrutaliteit’ het etlike munisipale wetstoepassers vier mans naby Villiersdorp  langs ‘n pad teen ‘n bergrand laat staan en teiken gegooi na hulle met appels. Die beamptes haal die appels agter uit ‘n munisipale voertuig uit. 

In die video kan gehoor word hoe die beamptes lag en vloek. In een deel kan gesien word hoe ‘n appel een van die mans teen die kop tref. Die beamptes is na bewering verbonde aan die Theewaterskloof-munisipaliteit by Villiersdorp. 

Een van die mans waarna gegooi word, probeer in ‘n stadium uit die pad beweeg. Hulle word ook beveel om ”na die berg te kyk”.

Die video is wyd op sosiale media gedeel en reeds bykans 300 000 gekyk. Talle kykers het in kommentaar op sosiale media hul afgryse met die beamptes se gedrag uitgespreek en dit skerp veroordeel. 

Die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Christelle Vosloo, het gesê sy het die video gesien en is onsteld deur die optrede van die beamptes.

Sy het onderneem om so vinnig moontlik kommentaar te lewer oor watter stappe deur die munisipaliteit geneem sal word teen die beamptes.

*Volledige kommentaar deur die burgemeester van die Theewaterskloof-munisipaliteit, Christelle Vosloo:

“Ek het kennis geneem van die videomateriaal waarin persone, in die drag van wetstoepasssers, slagoffers met appels gooi; en ek beskou die daad as verwerplik en onmenslik. 

  

Ek betreur dit dat die slagoffers die trauma moes beleef en beskou die gebeure as ‘n verbreking van mense se Grondwetlike regte om fisiese, psigologies en emosionele veilig en beskermd te wees. 

Ek sal onverwyld toesien dat dat die saak gepas ondersoek word. 

Die munisipaliteit sal die sterkste moontlike optrede loods teen personeel as hulle in verband met die gebeure skuldig bevind word. 

Ek doen ‘n beroep op die gemeenskappe om my en Theewaterskloof munisipaliteit ‘n geleentheid te gun om daadwerklik aangaande die gebeure op te treë en ek onderneem om alle belangegroepe deurlopend op hoogte hou. 

Ek sal persoonlik met die slagoffers ontmoet en seker maak dat hulle al die moontlike ondersteuning kry wat beskikbaar is.”

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Worcester Standard School Vibes Issue #3 – 5 December 2025
    Credit: Wynette King

Gift this article