Hestie de Villiers, ’n musiekleerling van Marietjie Murray Musiek op Rawsonville, het die besondere prestasie bereik om 100% in die afgelope jaar se Unisa graad 3-musiekteorie-eksamen te behaal. Nie alleen sal die 12-jarige se naam op Unisa se ererol verskyn nie, maar die Hennie Joubert-musiekprys is ook aan haar toegeken.
Dit is nie die eerste keer dat Hestie ’n plek op Unisa se ererol gekry het nie. Sy het die prestasie ook vir graad 1 en graad 2 behaal.
Haar onderwyseres, Marietjie Murray, beskryf Hestie as ’n uiters toegewyde, gedissiplineerde en doelgerigte leerling wat die prestasies wat sy bereik wel deeglik verdien.