“Ek was dankbaar in elke sin van die woord.”
Dit is hoe Almer Manuel gevoel het toe hy sy matriekuitslae gekry het en uitgevind hy is Hoërskool Tulbagh se topmatriekleerder met 76.86%.
“Ek was beide senuweeagtig en opgewonde terwyl ek op pad was skool toe. Maar toe ek die lokaal binnestap het daar net ’n kalmte oor my gekom. Toe ek my uitslae kry het ek geweet alles is moontlik deur harde werk.”
Hy noem ook dat sy ouers verskriklik baie trots op hom is, soveel so dat sy pa juigend in die gang afgehardloop het.
Gevra oor hoe hy die ongewone skooljaar van 2020 gevind het, sê hy, hy het die aftyd as gevolg van die inperking gebruik om deur ou vraestelle te werk om homself voor te berei vir dit wat voorlê.
Manuel gaan hierdie jaar tandheelkunde aan die Universiteit Wes-Kaapland studeer.
“Vandat ek klein was het ek en my ma altyd gegrap oor hoe ek eendag aan mense se tande gaan werk en hoe ek dit reg gaan maak. Toe dit kom om te besluit wat ek wou studeer, het besluit dis is wat ek wil doen.”