’n Tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer

Matrikulante van 2016 en 2017 wat nie aan die toelatingsvereistes vir hoër onder­wys voldoen nie, maar graad 12 geslaag het, kan nog aansoek doen vir toelating tot die jaar lange SciMathUS-program (wetenskap en wiskunde aan die Universiteit Stellenbo


Matrikulante van 2016 en 2017 wat nie aan die toelatingsvereistes vir hoër onder­wys voldoen nie, maar graad 12 geslaag het, kan nog aansoek doen vir toelating tot die jaar lange SciMathUS-program (wetenskap en wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch).

Aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US) se sentrum vir pedagogie (SUNCEP), bied die program jaarliks aan 100 studente uit onderwys­benadeelde omstandighede reg oor die land ’n tweede kans om vir hoër onderwys te kwalifiseer.

Sedert die program in 2001 begin het, het meer as 1 100 studente die program suksesvol voltooi.

Om aansoek te doen vir die program, moet matrikulante gr. 12 met ’n gemiddelde van 60% (lewensoriëntering uitgesluit), ’n minimum van 50% in Afrikaans of Engels (huistaal of eerste addisionele taal) en minstens 45% in wiskunde en fisiese wetenskappe behaal het.

Studente het die geleentheid om hul nasionale senior sertifikaat (NSS) se punte in wiskunde en fisiese wetenskappe te verbeter. Hulle kan ook kies om rekeningkunde en inleiding tot ekonomie te doen. Hierdie twee vakke word deur die universiteit aangebied en assesseer.

“Die SciMathUS-jaar gaan nie net oor toegang tot hoër onderwys nie,” verduidelik Nokwanda Siyengo, programbestuurder van SciMathUS.

“Dit gaan daaroor om studente te help om die verskillende metodes van leer en onderrig te verstaan.

“Ons skep vaardig­hede wat studente kan help om lewens­lange leer en sukses te behaal, verduidelik Siyengo.

Die meeste studente wat gr. 12 geskryf het en nie goeie punte behaal het nie, is geneig om te dink dit is die einde van hul akademiese pad, maar deur SciMathUS is daar ’n geleentheid om toegang tot hoër onderwys te kry.”

Die program word in Afrikaans en Engels aangebied en studente draf elke weeksdag van 08:00 tot 16:30 klas.

SciMathUS-studente woon en studeer op die Stellenbosch-kampus waar hulle deel word van die studentegemeenskap. . Die sluitingsdatum vir aansoeke is 26 Januarie 2018 en studente word aangeraai om aanlyn aansoek te doen by www.sun.ac.za/suncep of telefonies by 021 808 3483.

You need to be Logged In to leave a comment.