Carol Bruton van Rescue Among Many (Ram) skep vir een van die volwassenes ’n bakkie sop.


MONTAGU – Minderbevoorregte kinders van die Ashbury-woonbuurt, wat dalk nie ’n Kersgeskenk sou kry nie, is Saterdag 11 Desember aangenaam verras met ’n lekker vroeë Kerspartytjie met Kersbome, geskenke en al – en veel meer.

Rescue Among Many (Ram), ’n nie-regeringsorganisasie sonder winsbejag, met die ystervrou Carol Bruton aan die stuur, het die leidende rol in die projek gespeel. Ram doen die afgelope tien jaar opheffingswerk in die gemeenskap in Montagu en omgewing.

Verskeie ander organisasies, private sakeondernemings en skenkers het ingekoop in die projek en skenkings gegee om die dag moontlik te maak.

Klere, speelgoed, geskenkpakkies en lekkernye is onder meer van die skenkings wat Ram ontvang het.

’n Welbekende kettingwinkelgroep het ’n groot aantal brode en emmers sop geskenk.

Die oggend vroeg is ’n aantal priële op ’n oop stuk grond aan die bopunt van Swartolienlaan, aan die agterkant van Ashbury, opgerig. Die priële en twee Kersbome is met Kersversiersels opgetooi. Kersliedere en ander lekker musiek het die atmosfeer met opgewondenheid gevul en ’n Kersfees-gees geskep.

Die geskenke, klere en lekkernye is op ’n ry tafels uitgepak. Eenkant onder die “kombuis-prieel” het twee reusepotte op gasstowe geprut. Een is gevul met Kaapse brijani en die ander was ’n pot waarvan polonie en aartappels die hoofbestanddele was.

Voorts was almal betrokke in ’n vrolike Kersfees-luim.

Kinders het van vroeg af nuuskierig in klein groepies saamgedrom. Die afwagting was groot. Party het hulself vermaak met speletjies om die tyd om te kry. Ander het ritmies op die maat van musiek, wat deur ’n plaaslike platejoggie verskaf is, gedans.

Die aantal kinders het ongemerk vinnig aangegroei. Selfs volwassenes het begin nader staan, hoewel die teikengroep eintlik kinders tussen twee en 16 jaar was. Die opgewondenheid was byna tasbaar.

Toe, omstreeks 14:00, kom die aankondiging dat die geskenke uitgedeel gaan word. Gou-gou het ’n lang ry uit die bondel kinders vorm aangeneem.

Die kleinspan het een-een nader getree vir hul Kersgeskenke, kos, koeldrank en lekker eetgoed. Hulle het dit baie geniet, veral die lekkernye.

Bruton was hoogs tevrede met die projek.

“Dis moeilik om te bepaal hoeveel kinders daar was, maar ons het ietsie vir meer as 1 000 kinders gehad. En alles is uitgedeel.

“Ek wil graag al ons skenkers, sakeondernemings en almal wat ’n bydrae gelewer het, uit die diepte van my hart bedank. Sonder hulle sou die dag nie moontlik wees nie.

“En natuurlik ook ons plaaslike polisie – hulle was ’n algehele verrassing. Hulle het die kindertjies so mooi bedien. Ek het nie geweet hulle gaan daar wees nie. Dit was so wonderlik om hulle by ons te hê,” het Bruton met ’n glimlag van tevredenheid gesê.

Ter afsluiting het Bruton gesê sy voel die projek was so ’n groot sukses dat sy dit dalk ’n jaarlikse instelling wil maak.

You need to be Logged In to leave a comment.