Riool is ’n groot kopsorg in die Breedevallei, en selfs inwoners van Rawsonville sê hierdie probleem raak hulle ook.

Pierre Meyer, ’n inwoner hier, sê rioolprobleme wat gereeld opduik, is vir hulle ’n erge kopsorg – veral as die jet vac-voertuie veral snags gereeld in die strate moet wees om riool uit die stelsel op te suig.

“Ons het nie ernstige rioolprobleme nie, maar dit blyk die probleem duik gereeld elders in die dorp op, en dan is die voertuie en personeel van die BVM op ’n mens se voorstoep om aan die stelsel te werk. Dit gebeur soms dat dit sommer laat in die aand gebeur.

“Mense kla baie oor swak dienslewering, maar ek dink nie dit is die geval nie. Hierdie manne werk laat, maar dan is dit ’n geraas in die straat tot wie weet watter tyd, en die voertuig staan bykans die hele pad toe,” vertel hy aan Standard.

Meyer, wat al 15 jaar hier in sy huis in Porterstraat woon, sê hierdie verskynsel, wat na bewering omtrent op ’n weeklikse basis plaasvind, moet mos die munisipaliteit aanmoedig om beter stelsels aan te bring eerder as om heeltyd in tye van nood ’n hele buurt uit die slaap te hou.

“Ek weet inwoners van Spokiesdorp word deur erge rioolprobleme geraak, maar in die dorp is dit sporadies. Hoekom sal hulle altyd in ons straat en die straat langsaan moet werk? Loop die netwerk dan net daar verby, of hoe werk dit? Hulle kan ons darem net kom inlig,” meen Meyer.

Standard het egter met ander inwoners, wat naby Meyer woon, gepraat en talle sê hulle hoor niks nie of dit pla hulle nie eintlik as die munisipaliteit daar werk nie.

“Ons hoor nie veel nie en ons moet eintlik dankbaar wees as die munisipaliteit die werk doen,” meen een inwoner.

Standard berig gereeld oor talle gevalle waar riool en foute in die rioolnetwerk die gemeenskap erg raak. Die Breedevallei-munisipaliteit het in 2022 ’n groep deskundiges aangestel om die hele vallei se rioolstelsel te ondersoek en bevindings neer te pen om dit te verbeter. Dit is egter nog onseker hoe hierdie proses vorder.

Louise Prins, ’n inwoner van Bothastraat, sê egter sy hoor die gewerskaf wel laataande – veral werkers wat in die verte luidrugtig praat.

“Jy hoor soms die pomp loop, en dit is nie juis sagkens nie. Baie mense kan dink ons kla onnodig, maar doen eerder iets aan die probleem en moenie net pleisters kom plak nie – veral nie as ’n mens uitsien na ’n nag van stilte nie.”

Meyer sê kinders en ouers met babas woon in die buurt en hierdie probleem dra by tot ’n gevoel van frustrasie.

“Ons verstaan as ’n situasie van tyd tot tyd opduik, maar dit gebeur myns insiens net te gereeld. Ek hoop die BVM sal ’n plan kan sien hiermee en vinnig ook.”
.

Standard
het na die BVM uitgereik vir kommentaar hieroor, maar die navraag was teen druktyd nog onbeantwoord.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Standard E-Edition 15 January 2026
    Standard E-Edition 15 January 2026

Gift this article