Ek wil eerstens geluk sê aan elke matrikulant wat dit gemaak het. Aan dié wat dit nie gemaak het nie – dit is nie die einde van die wêreld nie.
Die matriekuitslae van 2021 is onlangs vrygestel en hoewel ’n mens heelwat goeie goed daaroor kan sê, wil ek fokus op die skole wat ’n slaagsyfer van minder as 60% behaal het.
Dit is met skok dat ek verlede week gesien het watter slaagsyfer Esselenpark Sekondêr (52,6%), die Hoërskool Breërivier (46,6%) en Worcester Sekonder (58%) behaal het.
Met inagneming van die pandemie sou ek sê dit gaan beter, aangesien 2021 se matrikulante meer skoolgegaan het as dié van 2020.
Ongelukkig het hulle by twee van hierdie drie skole steeds swakker gevaar as die vorige jaar.
My vraag is: “Hoekom kon Drostdy, Montana en Gimnasium goeie uitslae kry terwyl hul leerders dieselfde pandemie moes trotseer? Is dit omdat hulle beter hulpbronne tot hul beskikking het, of omdat daardie leerders meer gefokus is op hul studies?” Dit is tyd dat ons ons afvra of ons hierdie situasie gaan aanvaar.
Al hierdie skole volg dieselfde Caps-kurrikulum, maar as ons na die uitslae kyk, lyk dit nie so nie. Dit is tyd dat ouers, leerders en onderwysers hul sokkies begin optrek, want hierdie leerders is nie alleen vir hul prestasies verantwoordelik nie.
Wanneer dit goed gaan, wil almal sê hoe hulle bygedra het, maar as dit nie goed gaan nie, wil niemand verantwoordelikheid vat nie. Ek hoop 2022 se matrikulante sal dit ter harte neem om beter te doen – nie net vir hulself nie, maar ook vir hul gemeenskap en dié wat opkyk na hulle.
Dit is kommerwekkend dat selfs die 191 gevangenes wat die 2021-matriekeksamen geskryf het, ’n 89%-slaagsyfer behaal het, met altesaam 77 baccalaureus- en 47 diploma-vrystellings.
Aan die ander kant weet ons nie altyd waardeur leerders tydens hul eindeksamens gaan nie. Dit is ’n hartseer werklikheid dat sommige leerders geweld, misdaad en armoede in die gesig staar terwyl hulle vir die eksamen moet voorberei. Ek wil graag ’n beroep doen dat gemeenskappe en onderwysers die ekstra myl moet loop om leerders vir hierdie jaar by te staan sodat dieselfde nie weer gebeur nie.
Ek is seker dit kan van hier af vir ons toekomstige matrikulante net beter gaan.
Ek hoop diegene wat kies om nie verder te studeer nie, sal werksgeleenthede kry en die munisipaliteit en sakeondernemings sal hierdie jongmense aan die hand vat om seker te maak hulle maak ’n sukses van hul lewe.
Almal van ons is bewus van die uitdagings wat die jeug ervaar om toegang te verkry tot verdere studies of werksgeleenthede. Ons kan nie doekies omdraai en jok vir die nuut-gematrikuleerde jongmense nie: Die uitdagings is groot en hulle sal hulp moet kry om suksesvol te wees.
Die sukses van leerders hang van ons almal af en ons sal hard moet werk om leerders te motiveer om bewus te wees van hoe belangrik matriek is.