Die jongste nasionale misdaadstatistieke toon dat misdaad in die vallei aan die styg is.


In die misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van die 2024-’25- boekjaar is drie plaaslike polisiekantore in die top-30 ingesluit.

Die top-30 kantore is dié met die hoogste syfer van verskeie misdade wat aangemeld is. Hoewel die Worcester-polisiekantoor terug is op die onderskeie ranglyste, het Touwsrivier en Robertson op die mees onlangse lys statistieke verskyn.

Touwsrivier beklee nasionaal die 21ste plek in die afdeling vir vragmotorkapings en provinsiaal is dié kantoor tweede. Van April tot Junie vanjaar het daar, volgens die statistieke, vier vragmotor-kapings plaasgevind wat by die Touwsrivier-polisiekantoor aangemeld is.

In dieselfde tydperk verlede jaar is twee sulke sake aangemeld. Dus beklee die kantoor nasionaal nommer 23 en provinsiaal nommer drie.

Die Robertson-polisiekantoor het sy verskyning op die top-30-lys die eerste keer gemaak waar sake van seksuele aanranding sedert verlede jaar toegeneem het. In die eerste kwartaal van hierdie boekjaar is Robertson nasionaal 16de en provinsiaal sesde geplaas met sewe sulke sake wat van April tot Junie aangemeld is.

Verlede jaar is net twee seksuele-aanranding-sake vir dieselfde tydperk aangemeld.

Die Worcester-polisiekantoor maak sy verskyning in 14 verskillende afdelings.

In die afdeling vir ernstige misdade wat deur die gemeenskap aangemeld is, het die syfer met 181 gestyg. Altesaam 143 meer kontakmisdaad-klagtes is in die eerste kwartaal van hierdie jaar aangemeld. Die syfer was vir dieselfde tydperk verlede jaar 492, en 635 hierdie jaar.

Die syfer vir poging tot moord het met ’n skokkende 23 gestyg. In 2023 is 32 poging-tot-moord-sake aangemeld terwyl daar hierdie jaar 55 in die bogenoemde tydperk was.

Vyf meer sake van seksuele aanranding is aangemeld in vergelyking met verlede jaar se twee. In hierdie afdeling is die kantoor nasionaal 16de en provinsiaal sesde.

Aanranding met die doel om ernstig te beseer het met 12% gestyg – dit wil sê verlede jaar is 158 sake aangemeld, terwyl daar hierdie jaar 177 aangemeld is.

Die syfer vir sake oor algemene of gewone aanranding was in die vorige boekjaar 199 en in hierdie boekjaar is 265 sulke aanranding-klagtes van April tot Junie aangemeld.

In Worcester het die aantal vragmotor-kapings van nul tot vier gestyg. Kontakverwante misdaad het van 163 tot 159 gedaal.

Vyf brandstigtingklagtes is aangemeld teenoor verlede jaar se twee.

Altesaam 55 meer eiendom-verwante misdaad is hierdie jaar van April tot Junie aangemeld.

Inbrake by nie-residensiële eiendomme toon ’n styging van 19 sake.

Diefstal uit of vanaf ’n motor het met 30,4% gestyg. Verlede jaar is 115 sake aangemeld en hierdie jaar 150.

Die Worcester-polisie het gewoeker om misdaad van April tot Junie te bekamp. Verlede jaar is 396 misdade as gevolg van polisie-optrede opgelos, en hierdie jaar is 424 misdade so ver opgemerk. Dit plaas hulle nasionaal in die 17de plek en provinsiaal in die 14de plek.

Dwelmverwante sake het van 356 na 399 gestyg. Die Worcester-polisiekantoor is beide nasionaal en provinsiaal in die 13de plek.

Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het gesê die nuutste statistieke vertel ’n ontnugterende storie.

“Hierdie syfers vertel ’n ontnugterende storie, wat die erns van die uitdagings wat ons in die gesig staar, weerspieël. Hierdie syfers is meer as net syfers op papier – dit weerspieël die lewenswerklikhede van ons burgers – hul vrese, hul verliese en hul hoop op ’n veiliger nuwe dag. Die data is ’n skerp herinnering aan die behoefte aan optrede teen misdaad.

“Ons word gekonfronteer met ’n krisis wat die veiligheid van ons gemeenskappe bedreig en die stabiliteit van ons nasie ondermyn. Veral kontakmisdade saai verwoesting en vrees. Dit is onaanvaarbaar en ons moet hierdie uitdaging met onwrikbare vasberadenheid die hoof bied,” het Mchunu gesê.

You need to be Logged In to leave a comment.