Nuwe adjunkhoof val by Worcester Gimnasium in

Worcester Gimnasium het verlede Maandag (1 Oktober) sy nuwe adjunkhoof, Abrie le Roux, verwelkom.


Worcester Gimnasium het verlede Maandag (1 Oktober) sy nuwe adjunkhoof, Abrie le Roux, verwelkom.

Le Roux is ’n boorling van Upington en het aan die Hoërskool Martin Oosthuizen in Kakamas gematrikuleer. Hy het sy Hoër Onderwysdiploma aan die destydse Onderwyskollege in Oudtshoorn verwerf en sy onderwysloopbaan by Hans Merensky in Tzaneen begin.

Hy is in 1992 by die Hoërskool Cradock as biologie-onderwyser aangestel en in 2014 is hy tot wetenskap-departementshoof bevorder.

Le Roux is met Louise getroud en hulle het twee seuns. Louise is ook in die onderwys en gee tans wiskundige geletterdheid by J.A. Calata Secondary School. Die Le Rouxs se oudste seun, Stehann, is in Nieu-Seeland en hul jongste seun, Altus, voltooi sy argitektuurstudies aan die Universiteit van die Vrystaat.

Hulle is ’n hegte gesin wat lief is vir die buitelewe, musiek en flieks.

Sport is ’n belangrike deel van Le Roux se lewe. Hy het al verskeie plattelandse OP-spanne afgerig en hy is ook ’n kranige roeier wat al aan die Duzi-, Breede- en Hansa Fish-kompetisies deelgeneem het.

Sy groot passie is kinders. Hy leef sy passie uit deur ’n verskil in elke kind se lewe te maak. Sy raad aan jongmense is om voluit te leef en elke dag iets nuuts te leer. Hy hoop ook dat jongmense hulle sal omring met positiewe mense en dat omstandighede nie hul drome sal kniehalter nie.

Le Roux sê ’n nuwe lewensfase lê nou vir hom en sy gesin voor en hy sien geweldig daarna uit.

“Ek sien myself as ’n spanspeler wat Worcester Gimnasium en sy program in die geheel tot dié skool in die Boland en die Wes-Kaap wil help groei. Ek wil ’n positiewe rol in elke Worcester Gimnasium-leerder se lewe speel. Ek wil ’n bydrae lewer tot die vorming van ’n gemotiveerde, gebalanseerde landsburger wat sy/haar skoolloopbaan afsluit as ’n mens wat die lewe in die oë kyk om sy/haar plek met trots vol te staan. Ek wil iemand wees aan wie die leerders kan vashou as die lewenswind hulle begin rondwaai en hulle moet my leer ken as iemand wat elkeen met integriteit sal behandel.”

Die Bosvarke, ouers en personeel verwelkom die Le Roux-gesin. Le Roux se positiewe gesindheid en entoesiasme gaan ’n groot bydrae tot Worcester Gimnasium en die Bosvarkfamilie lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.