Daar is ‘n nuwe bevelvoerder by die Robertson-polisie nadat kol. Norman Davids die leisels in Maart oorgeneem het.
Sy voorganger, brig. John Alexander, is bevorder en as die bevelvoerder by die Kraaifontein-polisiekantoor aangestel.
Kol. Davids is ‘n boorling van Stellenbosch, maar woon reeds sedert 2017 in Robertson nadat hy destyds as die hoof van sigbare polisiëring aangestel is.
Dié hardwerkende polisiebeampte wou van jongs af in die polisie dien.
“As kind reeds het die uniform en die polisiemanne se passie vir hul werk my beïndruk,” sê hy.
Sy visie is om ‘n beter vennootskap met die Robertson-gemeenskap te vestig, sodat alle soorte misdaad verminder kan word. Hy wil graag die misbruik van drank en dwelms aanpak en die jeug lê hom na aan die hart.
Ek wil uitreik na ons gemeenskappe en luister na wat hulle te sê het – veral die jongmense.
“Ek wil uitreik na ons gemeenskappe en luister na wat hulle te sê het – veral die jongmense. Dwelms en drank steel hul toekoms. Wie weet wat hulle nog eendag kan bereik as ons hulle leiding gee en ondersteun. Daar is so baie geleenthede vir jongmense in ons land,” sê hy.
“Groot dank aan brig. Alexander vir sy leiding – hy was ‘n uitstekende leier. Ek is baie dankbaar vir elke liewe een in die polisie en die gemeenskap wat my ondersteun en my hand versterk.”
Kol. Davids, ‘n pa van twee en oupa van vier, bly fiks deur tyd in die gimnasium deur te bring. Maar tyd vir homself is min. Sy werk is sy passie. “In die 37 jaar wat ek as polisieman dien, het ek nog nie een oggend opgestaan en negatief gevoel oor dit wat ek doen nie.”