Nuwe eenheid vir outistiese leerders

Raak bewus van ander om jou wat anders is, en dat daar vir elkeen ’n plekkie onder die son is. Dít is die boodskap wat die Langerugskool in Outismebewustheidsmaand (April) wil oordra.


Raak bewus van ander om jou wat anders is, en dat daar vir elkeen ’n plekkie onder die son is. Dít is die boodskap wat die Langerugskool in Outismebewustheidsmaand (April) wil oordra.

Dié skool beoog ’n nuwe eenheid vir leerders op die outistiese spektrum, wat hulle in die derde kwartaal wil bekendstel.

Kinders op die outistiese spektrum, wat wel die hoofstroomkurrikulum kan baasraak, word reeds by die Langerugskool geakkommodeer.

Kinders wat egter nie die hoofstroomkurrikulum kan hanteer nie en ’n individuele onderrigplan moet volg, gaan nou ook geakkommodeer word.

“Die rede vir die stigting van die nuwe eenheid was die toenemende navraag van ouers van outistiese kinders en ’n groot behoefte in die omgewing na skoolplasing vir leerders op die outistiese spektrum,” sê Nina Theron van die Langerugskool.

Corlia Paulsen, ’n ouer van ’n nieverbale outistiese kind, wat saam met die skoolspan nou betrokke is by die nuwe projek, sê: “My tienjarige seun, Nicolaas, het net soveel reg as ander om opleiding te kry sodat hy sy maksimum potensiaal kan bereik om vorentoe ’n positiewe bydrae in die gemeenskap te kan lewer. Langerugskool gee nou hoop vir kinders en hul ouers en ’n bekostigbare opsie om hulle kinders te laat skoolgaan.”

Outisme verwys na ’n komplekse, ongeneeslike, ontwikkelingsversteuring in die brein, waarvan die oorsaak nog onbekend is. Die graad van outisme kan wissel van persone wat redelik normaal funksioneer, met geringe ondersteuning, tot persone wat baie laag funksionerend is en hoë vlakke van intervensie benodig.

“Nuwe navorsing toon dat een uit elke 68 kinders (een in elke 42 seuns en een in 189 meisies) daarmee gediagnoseer word.

Die diagnose word verkieslik deur ’n span kundiges, wat insluit terapeute, psigiaters, sielkundiges en pediaters, gedoen,” sê Theron.

Enigiemand wat bekommerd is oor hul kind se gedrag, kan hul pediater of huisdokter kontak sodat ’n professionele evaluering gedoen kan word.

Ouers met verdere navrae en inligting oor outisme en die eenheid by die Langerugskool, kan die skoolhoof, Cecile de Villiers, by 023 346 5300 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.