Nadat heelwat lede van die duiweklub Worcester Racing Pigeon Club (WRPC) in Oktober 2024 by die nuutgestigte Winelands Racing Pigeon Union (WRPU), met dorpe soos Worcester, Wolseley en Ceres aangesluit het, het verskeie duiweboere van Worcester behoorlik hul staal in die nuwe unie begin toon.
‘n Nuwe geslag duiweboere is hier in Worcester en omgewing besig om hul stempel behoorlik af te druk nadat hul ouers en voorouers voorheen met welslae aan duiwe-wedvlugte deelgeneem het.
Boonop is een van hierdie duiweboere, Anver Sedan, as die nuutgestigte unie se eerste voorsitter verkies.
Die einste Sedan het sommer sy stem dikgemaak deur nie net as sy klub (WRPC) se kampioen vir vanjaar gekroon te word nie, maar ook as sy klub en unie se middelafstand- en lang-afstand-kampioen aangewys is. Sedan was ook sy klub se kampioen in 2023, maar het nie in 2024 mededingend deelgeneem nie omdat hy na ‘n nuwe omgewing getrek het en sy duiwe eers moes aanpas. Boonop was daar twee weke voordat die 2024-seisoen sou begin.
Diewe het by sy hokke ingebreek en heelwat van sy duiwe gesteel. Hoewel hy danksy mede duiweboere heelwat van sy gesteelde duiwe teruggekry het, het hy gewag tot vanjaar om weer sy staal te toon. En het hy dit behoorlik en deeglik gedoen.
Nie net het hy 59 plekke (posisies onder die eerste 10 plekke) met sy duiwe losgevlieg nie, maar hy spog ook algeheel met vier eerste plekke, agt tweede plekke, vyf derde plekke, vier vierde plekke en ses vyfde posisies. Boonop is hy nie net as sy klub se kampioen aangewys nie, maar hy is ook as sy unie se algehele kampioen gekroon. Hy is ook as sy klub en unie se middel- en langpad-kampioen gekroon en het die algeheel derde plek by sy klub en unie ná Dan Marone in die kortpad-afdeling behaal.
Wesley Soldaat, nog ‘n jong duiweboer wat ook in sy oorlede pa se voetspore volg, was algeheel derde in sy klub en tweede in die unie terwyl Marone algeheel derde in die unie en in die tweede plek by sy klub geëindig het.
Dit was voorwaar tekenend dat hierdie nuwe generasie duiweboere gekom het om te bly en die gewilde sportsoort trots te maak. – Alver Uys





