Om skool te gee is nie vir sissies nie en al gaan dit ’n uitdaging wees, is dit een wat Esselenpark Primêr se nuwe skoolhoof slaggereed is om aan te pak.
Gert Domingo wat in 2000 by die skool as adjunkhoof aangestel is, is amptelik op 1 Junie as die nuwe hoof van die skool bevorder. “Ek het groot skoene om vol te staan, want die oudskoolhoof, Pieter Hoffman, het uitstekende werk gedoen om die skool te kry tot waar dit nou is maar ek sien uit om die skool verder te help groei,” sê Domingo.
Hy sien kinders as die toekoms en wil hulle vir die nuwe tegnologiese era voorberei.
“Oor 20 jaar sit hierdie kinders waar ons nou sit, in ons posisies. Dit is waarom ek hulle reg wil skool en soos die skool se leuse lui: Ons sal bou, net so wil ek die kinders en onderwysers opbou tot waardige mense wat ’n verskil in ons gemeenskap kan maak.”
Volgens die nuwe hoof is Esselenpark Primêr een van die eerste skole in Worcester wat deur die gemeenskap self begin is en geen verbintenis gehad het met ’n kerk toe dit 60 jaar gelede sy deure geopen het nie.
Kobus Hendricks, voorsitter van die skool se beheerliggaam sien daarna uit om die pad saam met Domingo te stap. “Hy is die regte hoof vir die skool. Daar was vyf kandidate wat aansoek gedoen het vir die pos en ek weet dat hulle die regte man gekies het om leierskap van die skool te neem. Hy is ’n omgeemens en het altyd tyd om mens te sien. My hart voel gerus oor hy nou aan die stuur van sake is,” sê Hendricks.