’n Oorbruggingskursus vir toelating tot ambagsopleiding gaan van 2019 by HTS Drostdy in samewerking met Sol-Tech aangebied word.
Deur hierdie toevoeging hoop Drostdy om toelating tot ambagsopleiding vir meer jongmense, ook in die omgewing, toeganklik te maak.
Volgens Paul van Deventer, besturende direkteur van Sol-Tech, is daar baie jongmense wat nie die geleentheid kry om by Sol-Tech te studeer nie omdat hul skolastiese kwalifikasies onvoldoende is.
“Hier word nou aan hulle die geleentheid gebied om Sol-Tech se oorbruggingskursus naby hul ouerhuis en in hul eie tyd te doen.”
Dié unieke oorbruggingsprogram is spesifiek ontwikkel om aan diegene wat nie aan die voorgeskrewe toelatingsvereistes vir ambagsopleiding voldoen nie, die nodige relevante onderrig te laat deurloop om sodoende toegang tot ambagsopleiding by die kollege te kry.
Die studente gaan die basiese beginsels van relevante vakke soos wiskunde, wetenskap, ingenieursgrafika en -ontwerp, en ambag-spesifieke tegniese vakke leer om die nodige toepaslike onderbou vir verdere studies te verkry.
Leerders wat in hul sekondêre skoolfase die nodige tegniese onderbou wil bekom om toegang tot Sol-Tech se formele tegniese beroepskwalifikasies te verkry, gaan primêr hierby baatvind.
Die institusionele opleiding vind steeds by Sol-Tech in Pretoria plaas; hierdie oorbruggingsprogram gaan nou net soveel meer jongmense toelating tot hierdie gesogte opleiding by Sol-Tech bied.
Volgens Van Deventer is dit in ooreenstemming met Sol-Tech se oorhoofse visie om jongmense se toekomsdrome met betrekking tot loopbaanontwikkeling deur doelspesifieke opleiding te verwesenlik.
Hierdie program word al vir ’n geruime tyd deur middel van voltydse kontaksessies in Pretoria aangebied vir studente wat reeds hul skoolloopbaan voltooi het en die Sol-Tech-keuring geslaag het.
Van 2019 sal dit egter vir die eerste keer ook deur middel van ’n afstandsonderrigmodel met geskeduleerde kontaksessies in samewerking met HTS Drostdy en vyf ander skole, as satellietkampusse, aangebied word.
Opleiding gaan aaneenlopend oor ’n tydperk van 24 weke geskied en leerders moet oor ’n gr. 10-sertifikaat beskik.
Volgens Arthur Underhay, die skoolhoof van HTS Drostdy, is die skool bewus van die werksgeleenthede wat daar in die veld van ambagsopleiding is en daarom is hulle opgewonde oor die geleenthede wat die skool in samewerking met Sol-Tech kan bied.
Sol-Tech bied beroepskwalifikasies aan as elektrisiën, meulmaker, passer en draaier, dieselwerktuigkundige, gereedskapmaker, trekkerwerktuigkundige en sweiser.
. Vir nog inligting oor die nuwe programme, skakel die skool by 023 342 2320.