Die Van Cutsem gekombineerde skool in De Doorns is verheug oor die mobiele wetenskaplaboratorium wat aan hulle oorhandig is.
PPC, in samewerking met die departement van onderwys, het onlangs dié laboratorium oorhandig.
Bomkazi Jama, ’n wetenskaponderwyser, sê sy kan nie wag om dié laboratorium saam met die leerders te gebruik nie.
“Die meeste van die hulpbronne wat ons hier by die skool het, is nie voldoende nie.
Ons is ’n plattelandse skool en het nie altyd die hulpbronne wat nodig is om eksperimente te doen nie,” het Jama verduidelik.
“Ek is bly dat PPC ons skool gekies het. Nou kan ons meer interaktief met wetenskap wees.”
Nie net het die skool die laboratorium ontvang nie, maar hulle het ook talle ou eindeksamenvraestelle ontvang.
“Dit gee ons ’n hupstoot in die voorbereiding vir die eksamen. Die leerders hoef nou nie meer lank te gaan soek vir vraestelle op die internet nie.
Hulle kan sommer vinnig ’n vraestel by die skool kry. Die leerders sal nie meer daardie agterstand hê wanneer hulle moet voorberei vir die eksamen nie.
“Die feit dat PPC ook beurse beskikbaar stel, maak die leerders net meer gemotiveerd om te leer en hul beste te gee in die eksamen,” het Jama gesê.
Kabira Akoob, die gemeenskapsprojekbestuurder by PPC, sê Van Cutsem is een van 17 skole in die land wat laboratoriums ontvang het.
“Ons fokus veral op plattelandse skole waar daar nie die nodige hulpbronne is om eksperimente uit te voer nie.
“Met dit wil ons ook hê dat leerders aansoek moet doen vir die beurse wat ons beskikbaar stel. Dit gee hulle die geleentheid om eendag vir ons te werk.
“Dit is vir ons ’n groot voorreg dat gebiede soos De Doorns kan baat vind by dié skenking,” het Akoob gesê.
Akoob sê onderwysers ontvang ook opleiding om die laboratorium te gebruik.