Almal is dit eens dat lees ’n prioriteit vir elke kind moet wees.
Die Kaapse Wynland-onderwysdistrik het Donderdag (19 November) ’n positiewe bydrae tot die bevordering van lees in die distrik se grondslagfase gelewer.
Die Kaapse Wynland-distrikskantoor het sy aanlyn platform vir jong leerders van stapel gestuur en hulle het die versekering van plaaslike onderwysers dat dié platform ’n suksesvolle bydrae in die klaskamer sal lewer.
“Ons het nie net die belangrikheid van lees, veral vir die leerders van die grondslagfase besef nie, maar ook die noodsaaklikheid vir ’n platform waar alle leerders toegang tot boeke kan kry,” het Edgar Johannes van die Kaapse Wynland-distrikskantoor gesê.
Dié platform gee leerders toegang tot ’n verskeidenheid boeke in verskeie tale.
Dit bied ook vir onderwysers die geleentheid om leerders se begrip vir wat hulle lees te toets en het ’n reeks aktiwiteite wat tot beskikking van die leerders is.
“Die platform dra by tot ’n mandaat van die onderwysdepartement om vir elke kind gehalteonderrig te verskaf. In die grondslagfase leer kinders om te lees en later lees hulle om te leer. Dit is dus van kardinale belang dat die ontwikkeling van lees onder leerders gekweek moet word.”
Johannes het bygevoeg lees kan ’n wêreld vir leerders buite hul eie werklikheid oopmaak. Die direkteur van die Kaapse Wynland-distrikskantoor, Juan Benjamin, het die aanlyn platform as ’n positiewe stap in die regte rigting beskou en die span gelukgewens met hul werk wat nou duisende leerders se lewe onherroeplik gaan verander.