Die Rising Eagles, ’n o.13-krieketspan saamgestel uit die laerskole in Worcester en omliggende dorpe, is die geesteskind en inisiatief van Bjorn Cochrane, ’n welbekende in sportkringe in die dorp en voorwaar iemand met ’n passie vir die sport, en sy ma, Mercia du Plessis.
Die span het van 2 tot 4 Oktober aan die Gerhard van Rensburg T20-kriekettoernooi in Bellville deelgeneem.
Die span bestaan uit Wynand Stofberg (kaptein), Cameron George (onderkaptein), Leonaydio Mackenzie, Zade Amsterdam en Deacon-Duane Willemse (al drie van Worcester-Noord), JG Lingenfelder en Seth Fisher (albei Worcester-Oos), Jordan Taute en Matthew Rossouw (albei Laerskool Ashton), Christiaan Visser (Worcester Primêr) en Vin-Leigh Meintjies (Laerskool Dagbreek, Robertson).
Hulle het op dag een teen Groenpunt met 9 paaltjies gewen en teen die MJW-akademie met 85 lopies. Op die tweede dag het hulle PLPS Stellenbosch met 77 lopies verslaan, terwyl Edgemead halfpad deur die wedstryd onttrek het. Die laaste dag het hulle teen die Western Cape Invitational met 26 lopies gewen en toe vir Groenpunt in die eindronde met 8 paaltjies verslaan om as wenner van die toernooi te eindig.
Wat hul prestasie nog meer indrukwekkend maak, is die feit dat agt van die 11 spelers nog o.12 is. Zade Amsterdam is ook na afloop van die toernooi as o.13-speler van die toernooi aangewys. Ses van die spelers, naamlik Stofberg, Mackenzie, Willemse, Rossouw, Taute en Lingenfelder, was laasjaar ook deel van die Rising Eagles-span wat die T20-toernooi, wat toe in Worcester gehou is, as o.11-span gewen het. Leonaydio Mackenzie is toe aangewys as beste o.11-kolwer van die toernooi.
Cochrane wil almal bedank wat ’n positiewe bydrae gelewer het om die jong spelers se deelname moontlik te maak. Hy is ’n gesertifiseerde vlak 2-krieketafrigter onder die vleuel van Boland Krieket en Krieket Suid-Afrika. Hy is as afrigter bygestaan deur die gewese Dolphins- en Bolandspeler Zahir Abrahim van Robertson-krieketklub, wat groot waarde toegevoeg het tot die spelers se ontwikkeling.
Cochrane beklemtoon die visie van die Rising Eagles Academy is om voort te bou op die grondslag wat nou gevestig is en hul vlerke verder te sprei.