Altesaam 37 leerders in graad 4 en hoër van Worcester NGK Oefen Primêr het Dinsdag 18 September elkeen ’n fiets ontvang wat deur Qhubeka geskenk is.
Die fietse is aan leerders wat in Avianpark woon, geskenk.
Pam Hugo, die projekbestuurder van The Grace Trust van die Worcester-Christengemeente en Yolanda Marais, die administrateur, het die oorhandiging behartig.
Elke fiets het ook ’n tas vol bykomstighede gehad.
Die skoolhoof, Elbertha Willemse, het gesê die fietse sal as goeie motivering vir die leerders dien.
“Leerders gaan leer om hul besittings goed op te pas asook die waarde van verantwoordelikheid. Dit is ’n aanwins vir die skool en sal deelname aan skoolaktiwiteite en skoolbywoning verhoog.”
Die leerders was in ekstase, want nou kan hulle skool toe trap.
Raylene Lukas, ’n graad 4-leerder, het gesê haar fiets beteken vir haar baie en sy is baie gelukkig dat sy as begunstigde gekies is.
Hugo het gesê die leerders is op grond van streng kriteria gekies. “Die leerders moes voldoen aan positiewe gedrag, goeie skoolbywoning, skoolprestasie, deelname aan buitemuurse aktiwiteite en toepassing van die skool se waardes en visie.”
Willemse het gesê die skenking is ’n hupstoot vir die gemeenskap van Avianpark, “Dit skep ’n kultuur van ‘behoort’ in die gemeenskap.”
Volgens Hugo is ’n kontrak met riglyne saamgestel. “Die kontrak bepaal dat die leerder die fiets op ’n ‘study to earn’- of ‘service to earn’-grondslag as permanente eiendom kan bekom. Wanneer die leerder die vereistes op die kontrak vir een jaar nagekom het, bly die fiets die leerder se eiendom,” het sy bygevoeg.
Hugo het gesê The Grace Trust het voorheen ook fietse by Somerset-Hoërskool, Breërivier Hoërskool en Avianpark Primêre Skool oorhandig.
Hul doel is om leerders te bemagtig sodat hulle aanhou presteer.