Die leerders van Worcester N.G.K. Oefen Primêre Skool was omtrent in hul noppies oor die ruimte nadat ’n virtuele planetarium-vertoning by die skool aangebied is.
Top Notch Schools and Projects, tesame met die skool, het die leerders deur middel van 3D-tegnologie op ’n vaart deur die ruimte geneem.
Top Notch Schools and Projects is ’n instelling al die pad van Witbank af wat die ruimte vir leerders vir ’n wyle ’n werklikheid maak.
Volgens Max Kalonji, een van die lede, strek die program al van 2019 af. Hy sê die organisasie kry tans oproepe van skole oor die hele land heen om hierdie ervaring aan leerders te bied.
“Ons neem leerders teen slegs R50 elk op ’n 3D-reis deur die ruimte, wat voordelig sal wees vir hul akademie, maar ook ’n belewenis wat hulle altyd sal bybly,” verduidelik Kalonji.
Dit is iets wat gewis by die skool se mantra: “Stap in om te leer; stap uit om te dien” aansluit.
Volgens die organiseerders by die skool is die doel van die planetarium om op hierdie prettige wyse die inhoud van kwartaal vier, “NWT, die ruimte”, na leerders te bring.
Dit kom veral nadat die Covid-19-pandemie in alle skole groot leemtes onder leerders gebring het wat akademie betref.
By hierdie sessie het die leerders nie net hersiening gedoen nie, maar ook self die visuele beeld van die ruimte gesien en ervaar om die inhoud beter te verstaan en te kan weergee.
Elbertha Willemse, die skoolhoof, sê die skool wil met hierdie geleentheid dit ook by die leerders tuisbring dat daar soveel moontlikhede “daar buite is”.
“Niemand hoef vasgevang te word in hul omstandighede nie,” sê Willemse.