Oliver kan die boeke laat klop

Hoërskool Robertson se topmatrikulant, Oliver Ward (18), het ’n kop vir wiskunde en weet dat hy sommer vinnig-vinnig die boeke kan laat balanseer.


Hoërskool Robertson se topmatrikulant, Oliver Ward (18), het ’n kop vir wiskunde en weet dat hy sommer vinnig-vinnig die boeke kan laat balanseer.

Dit is dan ook juis waarom Oliver uitstekende resultate opgelewer het tydens sy nasionale matriekeindeksamen in die meeste van sy vakke, maar veral uitgeblink het in wiskunde, rekeningkunde en fisiese wetenskappe. Sy gemiddeld was 86% en hy kon daarin slaag om vyf onderskeidings te behaal.

Oliver Ward
Oliver Ward (18) van Hoërskool Robertson het vyf onderskeidings met ’n gemiddeld van 86% behaal.

Oliver, wat in Kaapstad gebore is, het sy grootwordjare in Robertson deurgebring. Hy verduidelik dat sy ma, René, nog altyd sy grootste ondersteuner is.

“My ma moedig my altyd aan. Sy is altyd daar as ek haar nodig het vir raad of advies of om net af te pak.”

Oliver sal een van die dae as ’n eerstejaarstudent aansluit by die Universiteit van Kaapstad en sy studies in geoktrooieerde rekeningkunde aanpak.

“Ek sien baie uit daarna, aangesien my gunstelingvakke rekeningkunde en wiskunde is. Ek wil graag ’n rekenmeester word en sien uit om een van die dae daarop te fokus,” vertel hy aan Standard.

Hy het ook deelgeneem aan atletiek, krieket, hokkie en selfs aan karate tydens sy skooljare en sy liefde en passie vir sport is iets wat hy ook graag verder sal wil uitleef.

Oliver sê dat Covid-19 ’n groot impak op die wêreld gehad het, maar dat hy dankbaar was vir goeie ondersteuning.

“Ons skool en veral ons onderwysers het seker gemaak ons is gereed en gerat vir die eksamens wat voorlê. Ons het goeie ondersteuning deur die skooljaar ontvang en daarom kan ons triomfeer in ons uitslae.”

Sy raad aan die matriekgroep van 2021 is:

“Hou altyd jou werk op datum. Moet nooit agterraak nie. Werk hard, maar geniet ook elke oomblik daarvan.”

Hoërskool Robertson het ook twee ander leerders gehad wat A-gemiddelde behaal het. Die skool het ook ’n 99% slaagsyfer behaal.

Werner Leicher en Jody Noudt het onderskeidelik vyf en vier onderskeidings elk behaal.

You need to be Logged In to leave a comment.