Die Worcester-polisie vra hulp om ’n man uit te ken wat helder oordag in die straat inmekaargesak en gesterf het.
Volgens adjudant-offisier Vathiswa Jacobs, ’n polisiewoordvoerder, het die onbekende man Sondag (9 Januarie) omstreeks 08:18 in Durbanstraat verby nommer 45 en 47 gestap toe hy skielik ineenstort.
Hy is op die toneel dood.
Die polisie doen ’n beroep op die gemeenskap indien enigiemand ’n geliefde vermis, om asseblief kontak te maak met speur-adjudant-offisier Kobus Willemse by 066 263 6995.
In ’n ander voorval het die polisie Sondag 2 Januarie omstreeks 04:00 ’n klagte van ’n skietvoorval in Tinktinkiestraat in Avian Park ontvang.
Met hul aankoms op die toneel het hulle op die lyk van ’n man afgekom. Die polisie is deur ’n ooggetuie ingelig dat hy en die slagoffer voor Tinktinkiestraat 47 gestaan het toe drie onbekende mans hulle verbygesteek en vir ’n sigaret gevra het.
“Een van die onbekende mans het teruggedraai en ’n vuurwapen uitgehaal en die slagoffer geskiet. Die slagoffer het na die agterkant van die huis gehardloop, waar hy inmekaar gesak het en dood is,” sê die polisie.
Volgens hulle het die slagoffer ’n skietwond in die bors gehad.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.