‘Onderwysers is en bly belangrik’

Onderwysers vanoor die Kaapse Wynland het onlangs ’n wiskundekonferensie in Worcester bygewoon om weer hul wiskundige vaardighede op te skerp.


Onderwysers vanoor die Kaapse Wynland het onlangs ’n wiskundekonferensie in Worcester bygewoon om weer hul wiskundige vaardighede op te skerp.

  • Dié jaarlikse konferensie is deur gr. R- tot gr. 9-onderwysers bygewoon. Die konferensie is deur Amesa samewerking met die onderwysdepartement aangebied.

Die algemene onderwyser- en oplei­dingskoördineerder van die Kaapse Wynland-distrik van onderwys, Edgar Johannes, sê opvoeding is die sleutel tot leerders se sukses en deur wiskunde leer leerders logiese denke wat hulle deur hul lewe kan gebruik. “Die doel van vandag is om wiskundevaardighede en -kennis van die leerders te ontwik­kel. Om dít te kan doen, moet ons die onderwysers ontwikkel,” sê Johannes.

Die konferensie het op kennis, inhoud en onderwysmetodologie gefokus.

“Die dag gaan oor die aansporing van onderwysers om gehalteonderrig te lewer sodat die leerders beter kan presteer. Laerskole is die voedingsbron vir hoërskole. Goeie onderwysgehalte in laerskole produseer gehalteleerders in hoërskole en op universiteit,” sê Johannes.

Die gasspreker was dr. Ronalda Benjamin, ’n boorling van Worcester. Sy het aan die Hoërskool Breërivier gema­tri­ku­leer en daarna het sy ’n BCom-graad in wiskunde verwerf en het ook haar honneurs-, meesters- en doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch voltooi. In 2016 het sy as lektor by die US begin werk.

“Ek wil onderwysers weer herinner aan hul belangrike rol in leerders se opvoeding. Juis daarom is dit ook belangrik om wiskunde op ’n goeie manier oor te dra,” sê Benjamin.

Sy sê sy let op dat studente op universiteit se denkwyses nie goed ontwikkel is nie of dat hulle sukkel om te redeneer. “Onderwysers het groot werk om te doen. Wiskundeonderwysers moet dink aan hoe hulle klasgee. Hulle moet verstaan hóé dit oorgedra moet word sodat hulle dit met vertroue kan doen,” sê sy.

You need to be Logged In to leave a comment.