Onderwysers leer ook self hoe om robotte te bou

Drie van HTS Drostdy se onderwysers het robotte gebou as deel van hul opleiding.


Drie van HTS Drostdy se onderwysers het robotte gebou as deel van hul opleiding.

Die kursus is onlangs by die pedagogiese en praktiese assesseringskursus met die fokus op robotika by Protea Hights Academy aangebied.

Hierdie opleidingsgeleentheid is deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement geïnisieer.

Die onderwysers wat die opleiding ondergaan het, is Christine Meiring (tegniese wetenskappe), Ineke Meyer (inligtingstegnologie) en Lizette Venter (fisiese wetenskappe).

Die kursusgangers moes in ’n voorgeskrewe tyd ten volle funksionerende robotte bou deur gebruik te maak van wiskundige wette en beginsels. Daarna moes hulle die robotte programmeer om dit in staat te stel om sekere komplekse take te verrig.

Volgens die aanbieder van die kursus wat al jare lank in robotika spesialiseer, dr. Patricia Gouws van Unisa, is dit voorheen bewys dat kinders wat prakties robotte bou, hul wiskundige en wetenskaplike insig versterk en dat dit ook help met logiese denke en probleemoplossing. Dit moedig spanwerk aan aangesien op die spesialisfokus van elke spanlid staat gemaak word.

HTS Drostdy beoog om robotika in 2020 in te sluit as deel van die skool se Sentrum vir Innovasie.

Volgens die skoolhoof, Arthur Underhay, is die gebruik van tegnologiese hulpmiddels soos geprogrammeerde robotte in vervaardiging, onontbeerlik deel van die toekoms. Daarom moet hierdie veld deel vorm van skoolopleiding.

“Leerders van gr. 8 af sal as deel van die beginprogram toegang hê tot die uitdagings wat die bou van robotte betref. Die skool maak voorsiening vir die vervaardiging, bou en programmering van die robotte.”

Prof. Marietjie Havenga van die Noord-Wes Universiteit (Pukke) gaan leiding neem by die skool met die instelling van robotika en sal in die derde kwartaal van 2019 die tegniese en rekenaarsentrums besoek om aanbevelings te doen.

’n Loopbaanuitstalling word van 19 tot 21 September by die skool gehou en val saam met ’n provinsiale vaardigheids­kompetisie op 21 September (ook by die skool) met die oog op die nasionale en internasionale vaardigheidskompetisies. Die kompetisie sluit vakgebiede soos siviel (houtbewerking en konstruksie), elektronika, sweis en metaal, ontwerp, gasvryheid en robotika in.

Ondernemings of mense wat betrokke wil raak of aan die provinsiale vaardigheidskompetisie wil deelneem, kan Annamarie Underhay by HTS Drostdy by 023 342 2320 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.