Altesaam 350 onderwysers is onlangs aan kreatiewe en vernuwende maniere om wiskunde te onderrig by die dag lange Woeker met Wiskunde-konferensie blootgestel.
Die eerste konferensie, gehou in die Paarl en die tweede, gehou op Worcester, is deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) in samewerking met die Wynlande-onderwysstreek en met steun van die Trust vir Afrikaanse Onderwys aangebied.
Die konferensies was in die vorm van ’n wiskundeslypskool waarin leidende opvoeders die jongste onderrigmetodes en -tegnieke in ’n reeks lesings, werksessies en motiveringspraatjies aangebied het.
Onderwysers van graad R asook die grondslag-, intermediêre en senior fases het die geleentheid bygewoon.
Die Wynlande Woeker met Wiskunde-konferensie was die derde wat die SBA in die Wes-Kaap gehou het. Sowat 200 onderwysers van die Weskusdistrik het in 2016 by dié konferensie gebaat.
Dié konferensie het onderwysers van oor die hele onderwysdistrik gelok.
“Die onderrig en verstaan van wiskunde is ’n massiewe uitdaging in skole,” het dr. Niel le Roux, die uitvoerende hoof van die SBA, gesê.
Johan van Lill, die projekbestuurder, het verduidelik die klem is op praktiese onderrig.
“Daar is baie alledaagse goed wat ons dikwels weggooi, maar wat as onderrighulpmiddels gebruik kan word om leer praktieser en prettiger te maak. Die doelwit is om onderwysers te inspireer deur hulle aan nuwe idees bekend te stel,” het Van Lill verduidelik.
Joey de Villiers, ’n onderwyseres vir die grondslagfase aan die Primêre Skool Victoriapark in Worcester, het gesê die konferensie het haar met ander oë na wiskunde laat kyk.
“Al bestaan die vak soms uit baie abstrakte begrippe, is daar geen rede om dit nie konkreet, prakties en prettig aan leerders oor te dra nie.
“Daar is een metode om terugtel te demonstreer wat ek sommer nou al weet my kinders mal oor gaan wees. Wanneer die leerders tel en by veertig kom, moet ek in ’n leë boks klim en dit toemaak omdat daar vir niks meer plek is nie. Ek kan uitklim wanneer die leerders begin terugtel en ek weer in die dertigs is.”
Selfs ná twintig jaar in die onderwys het Josephine Ross van Worcester Moslem Primêr nuwe idees gekry oor hoe om getalpatrone – een van die moeiliker konsepte vir leerders in die intermediêre fase – meer verstaanbaar te maak.
“Ons het juis hierdie week daarmee begin en dit was asof die kinders die reëls met hierdie metode net makliker en vinniger as gewoonlik gesnap het,” het sy gesê
Magda Manuel van H. Venter Primêr in Worcester het gesê in graad R moet alles – veral wiskundige begrippe – op baie praktiese wyse aan die jong leerders oorgedra word.