DoofBlind SA is met behulp van vennote uit Swede se organisasie vir DoofBlinde persone op 26 Julie 1996 gestig.
Hierdie was om hul Suid-Afrikaanse eweknie te help met selfverteenwoordiging. Selfverteenwoordiging beteken dat ek self kan besluite neem oor wat ek wil doen, hoe ek wil leef, waar ek wil inskakel en waar nie. Dus enigiets wat my lewe raak, van die oggend tot die aand is my besluit.
Dit klink baie eenvoudig, maar is gewis nie vir almal so eenvoudig nie. Ons almal kry daardie gevoel van “Ek wil doen, maar”. Maar ja: “Hulp”.
Dit beteken nie dat die persoon verskoning maak nie, maar dalk te min “selfvertroue” het om dit te kan doen of dalk ondersteuning nodig het in die proses van uitvoering.
Soms wil buitepartye ook besluit wat dié persoon kan doen of in staat is om te doen. Ons sal soms verstom raak oor die vermoëns van mense met gestremdhede. Dan noem ons hulle “inspirerend” net omdat hulle iets gedoen het wat ons verwagtinge oortref het.
In Swede was daar by hul organisasie se 50ste herdenking ’n DoofBlinde vrou wat tydens die seremonie die mikrofoon wou ronddra na die sprekers. Onthou, sy kan nie sien nie en ook nie hoor nie (DoofBlind).
Dit was haar droom om iets besonders te kan bydra tydens hul seremonie. Hier het ek geleer wat begrip is en hoe ’n oplossing gevind word om iemand se droom te verwesenlik.
Daar is ’n gids aangewys wat die vrou kon help om die mikrofoon te dra na die mense wat ’n spreekbeurt gehad het. Die twee het die hele aand só tussen die skare deurbeweeg en die mikrofoon behendig aan sprekers gebied om hul boodskap te bring.
Aan die einde van die aand was die vrou só selftevrede dat sy haar droom kon uitvoer en dat sy deel was van die sukses van die aand.
Die aand het vir haar besonderse waarde gehad en sy kon beslis ’n bydrae lewer, al lyk dit so eenvoudig. Dit is vir my ’n inspirasie om meer te doen as wat mense van my as DoofBlinde kan verwag.
Soos ’n persoon groei deur te doen, so kry die persoon dit reg om nog meer en meer met verantwoordelikheid te doen.
Die meerderheid van ons ken of weet van Helen Keller, die vrou wat sulke wyse woorde en dade kon uitvoer. Ja, sy was ook DoofBlind, maar daar was Annie Sullivan wat dit moontlik gemaak het vir haar om haar potensiaal te kon bereik. Nog meer, wat geglo het dat Helen Keller kan doen wat ons almal nou weet sy hét gedoen.
Ons het hedendaags baie Annie Sullivans nodig, wat met geloof en toewyding mense se potensiaal op die regte manier kan help ontsluit.
Help ons as jy kan
Dit is een van die doelstellings van ’n organisasie soos DoofBlind SA om ‘n platform te skep waar DoofBlinde mense kan droom en floreer en ook Helen Kellers mag wees in hul eie reg.
Kom, raak betrokke by ons. Help ons om te kan doen wat ons doen – hier in die “land van DoofBlind SA” – waar Doofblindes verteenwoordiging in elke provinsie het.
Ons nasionale kantoor is by Napierstraat 17A, Worcester.
Kom gesels met ons oor hoe u betrokke wil raak, op welke manier ookal.
Ons selnommer is 082 688 5344, of e-pos vir Philip Dobson by n.d.a@deafblindsa.co.za, die DoofBlinde nasionale direkteur. Hy het groot drome, waarmee u kan help.