’n Veiligheidsbeampte by ’n kettingwinkel het na bewering eers ’n pakkie hoofpynpoeier in ’n vrou se sak gegooi, haar van diefstal beskuldig en haar toe rondgeruk en geklap.
Nou is ’n ooggetuie van dié voorval op soek na die slagoffer om ’n saak teen die veiligheidsbeampte oop te maak.
Die jaar het op ’n slegte noot vir Andrea van der Ross en die slagoffer, wat vermoedelik van Roodewal is, begin.
Volgens Van der Ross was sy en haar familie op pad na die swembad toe hulle by die kettingwinkel in die middedorp stop om peuselhappies te koop. Min het sy geweet dat sy ’n ooggetuie van só ’n toneel gaan word.
Van der Ross vertel dat die ander vrou daarvan beskuldig is dat sy ’n pakkie Grandpa-poeier probeer steel het.
“Ek het gesien hoe die veiligheidswag die Grandpa in haar sak gooi,” sê Van der Ross.
Toe die vrou weier om daarvoor te betaal, het die veiligheidswag haar so hard gestamp dat sy in die gangetjie tussen die rakke beland het.
“Die vrou was op die grond, toe kom die veiligheidswag en klap haar deur haar gesig.”
Van der Ross vertel die vrou het in ’n stadium self haar T-hemp opgelig om te probeer bewys dat sy niks gesteel het nie.
“Ek het haar vasgehou en gesê die veiligheidswag moet die polisie bel, want al het sy die goedere gesteel, was die manier waarop hulle haar hanteer het, verkeerd.”
Sy sê die vrou is na die kamer, waar die kameras is, geneem en daar het hulle glo toe bevestig dat dit die veiligheidswag is wat die Grandpa in haar inkopiesak gegooi het.
“Hulle het net om verskoning gevra en dit daar gelaat.”
Van der Ross, wat by ’n regsfirma werk, het toe prokureurs gekry wat die slagoffer wil help. Enigiemand wat haar ken, of sy self, kan Van der Ross by 071 572 7805 bel.