Die gort was vanoggend (15 Oktober) gaar by Overhex Primêre Skool buite Worcester, met ontstelde ouers wat luidkeëls voor die gebou byeengekom het.
Die bom het gebars ná beweringe die afgelope naweek in ‘n Sondag-koerant dat die skoolhoof, Laetitia Hendricks, kinders wat lelik op ‘n kletsgroep gepraat het se monde met seepwater laat uitspoel het.
Volgens die koerant het die briefskrywer die saak onder ‘n skuilnaam by hul aangemeld, glo “uit vrees vir vergelding”.
Dié berig is op sosiale media beskryf as ‘n “smeerveldtog” teen die hoof. Ingeligtes ná aan die hoof beweer dat sy reeds jare lank geteister word deur ‘n werknemer by die skool.
Standard het kort voordat hierdie voorval plaasgevind het, nog klagtes oor dieselfde persoon ontvang. Hoewel hierdie klagtes telkemale aangemeld was, was geen stappe glo teen die persoon geneem nie.
Ouers het glo ter ondersteuning van die hoof by die skool opgedaag, asook om antwoorde oor die seep-voorval te kry.
Verskeie ouers het glo ‘n petisie onderteken wat vra dat die saak met betrekking tot die betrokke werknemer ondersoek word.
Verteenwoordigers van die Wes-Kaapse Onderwysdepartement het die skool gister (Dinsdag 14 Oktober) besoek om ondersoek na die klagtes in te stel. Die kringbestuurder, Elbertha Willemse, sou vandag weer besoek aflê.
Navrae oor die voorval is aan die WKOD gerig. Hul kommentaar sal bygevoeg word sodra dit ontvang word.



