Febe Cupido, die vrou van pastoor David “Oompie” Cupido, eienaar van die omstrede geldmaakskema 4th Power Investments, is Donderdagoggend na die Worcester-hospitaal gehaas nadat sy in die been geskiet is in ‘n vermoedelike sluipmoordaanval.
Volgens ’n betroubare bron na aan die familie is sy skuins na 02:00 vanoggend raakgeskiet toe ’n onbekende persoon drie skote op die Cupidos se woning in Coronationstraat, Touwsrivier, afgevuur het. ’n Koeël het deur die sitkamervenster, waar sy en haar man vermoedelik TV gekyk het, getrek en haar in die been getref.
“Ek het net drie harde skote na mekaar gehoor en daarna was dit baie stil. Dit het soos ’n outomatiese vuurwapen geklink want die skote het kort na mekaar afgegaan,” het die bron aan Standard gesê. ’n Ander bron het aan Standard gesê Oompie is op ’n moordlys en dat daar glo bendes is wat sy kop soek, omdat hulle ook belê het.
Die plaaslike polisie het die voorval bevestig. Volgens inligting wat so ver bekend is, is vier mans glo kort voor die skietvoorval deur ‘n wit Ford Focus naby die Cupidos se huis afgelaai. Die nommerplate van die voertuig was bedek. Die skoot wat Febe Cupido getref het, was glo afkomstig van ‘n haelgeweer. Dit is in die stadium nie bekend of nog vuurwapens in die skietvoorval gebruik is nie.
Die polisie ondersoek ‘n saak van poging tot moord. Intussen duur die Valke se ondersoek teen Cupido vir geldwassery en die beweerde bedryf van ’n piramideskema steeds voort.