Die Universiteit Stellenbosch (US) se opedag Saterdag 24 Februarie is die geskikte geleentheid vir graad 11- en 12-leerders om waardevolle inligting oor studiegeleenthede by tersiêre instellings te bekom.
Besoekers kan inligting kry oor moontlike loopbaankeuses, finansiële steun, studiegeld, koshuisplasings, verblyf en die studentelewe terwyl die afdeling vir studentesake in Bosmanstraat inligting oor verblyf op kampus en die opsies vir private verblyf sal gee.
Leerders wat in hoëprestasiesport belangstel, kan op die Rooiplein met atlete en sportbestuurders van Maties Sport gesels.
Besoekers word aangemoedig om eers by die verwelkomingstent voor die konservatorium in Victoriastraat aan te meld.
Leerders word aangemoedig om vir die opedag te registreer.
Voornemende studente kan vanjaar middagetes in ’n US-koshuis teen R60 per persoon bespreek, sowel as vervoer na die fakulteit geneeskunde en gesondheidwetenskappe op die Tygerberg-kampus.
As gevolg van die waterkrisis in die Wes-Kaap moedig die universiteit besoekers aan om hul eie gebottelde water saam te bring.
Die opedag vind Saterdag 24 Februarie van 08:30 tot 16:00 by die Stellenbosch- en Tygerberg-kampusse plaas.
.Besoek www.maties.com vir die volledige opedagprogram met tye en venues of skakel 021 808 9111 of stuur ’n e-pos na info@sun.ac.za.