Opel se nuwe Astra is hier met genoeg skietgoed om selfs die “weeldeklas te beïndruk”. Veral die luukser modelle in die nuwe Astra-reeks kan ’n alternatief vir rygoed soos die Audi A3 en BMW 1-reeks wees . . . seg Opel.
Boonop spog dit ook met die Europese Motor van die Jaar-titel. Sterk aansprake vir ’n model wat tot en met sy vorige generasie gesukkel het om die segment se gunsteling, die Volkswagen Golf, en selfs die Ford Focus, ore aan te sit. Maar ná baie kilometers agter die stuur van verskeie modelle in die nuwe Astra-reeks, is dit nie so maklik om Opel se aansprake as reklamepraatjies af te lag nie.
Kom ons begin voor
Dit is die 11de geslag van Opel se kompakte gesinsryding wat in een stadium ook Kadett geheet het. Dié nuweling is tans net in ’n luikrugbakvorm te kry met geen nuus oor ’n sedan nie. Die kookwater-OPC-model is ook nog nie ’n werklikheid nie en die huidige een sal nog geruime tyd beskikbaar wees.
Die nuwe reeks bestaan uit nege modelle met drie enjinkeuses, drie ratkasopsies en daar is ook drie opsionele pakkette beskikbaar.
Buite
Op die oog af lyk die nuweling nie radikaal anders as die vorige model nie. Dit is egter kleiner (4,5 cm korter en 2,5 cm laer) as sy voorganger.
Voor vorm die hoofligte en die sierrooster ’n eenheid met ’n deel van die dagryligte wat netjies by een van die chroomstroke van die sierrooster aansluit.
Van die kant lyk dit amper asof die dak agter in die lug hang, met dié dat ’n deel van die C-pilaar in swart afgewerk is. Opel gebruik dieselfde truuk in sy Adam. En agter is die lighulse langer en dunner wat daartoe bydra dat die Astra breed en plat lyk.
Binne
Die verskille tussen die nuwe en die oue is baie opvallend in die binneruim. Opel het die voorpaneel herontwerp met minder knoppies en skakelaars. Die oorblywendes is beter gerangskik en talle funksies word nou via die IntelliLink-multimediastelsel met ’n raakskerm hanteer.
Opel het ook heelwat aandag aan die plastiek gegee vir ’n beter gehalte wat sagter voel en duursamer lyk. Dít, saam met die nuwe ontwerp en dowwe chroomafwerking, verskaf ’n weelderiger gevoel in die kajuit. En ondanks die nuwe Astra se kleiner buiteafmetings bied die binneontwerp 3,5 cm meer beenruimte vir die agterste passasiers en 2 cm meer kopruimte vir die voorste insittendes.
Toerusting
Opel spog baie met die “demokratisering” van gerief- en veiligheidstoerusting wat voorheen net in baie duurder rygoed te kry was, en nou ook hul weg na die Astra toe gevind.
Dit sluit die sogenaamde slim LED-hoofligte in (standaard in die voorste Plus-model en ook beskikbaar in een van die opsionele pakkette). Dit kan rondom aankomende verkeer skyn sonder om gedomp te word en pas die intensiteit en straalpatroon van die ligte outomaties aan by die spoed en omgewing waar gery word.
Opel spog ook met sy nuwe “oog” – ’n hoëspoedkamera. Dit word vir dinge soos volgafstandbeheer met botsingwaarskuwing, die herkenning van verkeerstekens langs die pad en ’n stelsel om jou in jou gekose baan te hou, ingespan. Sensors word vir blindekolwaarskuwing, parkering asook selfparkering ingespan. Daar is ook ’n truratkamera. En al die stelsels wat met Opel se “oog” werk, is standaard in die 1400- en 1600-modelle en opsioneel (in een van die pakkette) vir die luukser van die twee 1.0T-litermodelle, die Enjoy, beskikbaar. Die blindekolwaarskuwing, truratkamera en selfparkering is weer net in die 1400 Sport- en die 1600 Sport-reeks beskikbaar.
Ecotec-enjins
Die eenliterpetrolenjin met sy drie silinders en turboaanjaer is basies dieselfde as die een wat plaaslik in die Adam en Corsa ingespan word. In die Astra skop dit ironies ’n paar kilowatt minder uit as in die ander twee modelle (77 kW teenoor 85 kW), maar die wringkrag is teen 170 Nm dieselfde. Opel se enjin is onder hande geneem en spesiaal vir die Astra ingestel. Die ander twee enjins is splinternuut. Die 1400 en 1600 turbopetrolkragbronne deel niks met hul voorgangers nie en spog met dinge soos direkte brandstofinspuiting.
Die nuwe 1400-enjin bied nou 110 kW en 245 Nm. Die ou 1400 het 103 kW en 200 Nm gebied. En die 1600 spog met ’n stewige 147 kW en 280 Nm (300 Nm met volle versnelling). Die vorige 1600-enjin het 132 kW en 266 Nm gelewer.Albei is ook aansienlik meer ekonomies, het laer uitlaatgassyfers en is die beter syfers aan ’n gewigsbesparing van tot 200 kg per voertuig.
Op die pad
Die nuweling beïndruk van die oomblik dat jy inklim. Die eenliter-Astra met net 77 kW laat ’n mens aanvanklik kopkrap – totdat jy aan die gang is. Die enjin is gewillig en dit is eers teen opdraandes dat jy die gladde vyfgangratkas begin roei.
Die twee groter kalante is vuurvreters met genoeg skietgoed onder die enjinkap vir elke ryomstandigheid en seepgladde sesgangratkaste. Die 1600-Sport is ’n juweel wat jou baie gou ’n spoedboete kan besorg.
Slotsom
Indien die nuwe Astra nie die klasleier is nie, is dit die naaste daaraan wat enige Astra nog gekom het.
Dit sou ook nie so vreemd wees as ’n paar kopers van duurder Duitse rygoed dalk net ’n oog na dié Duitser se kant toe gooi nie. Bron: Netwerk24