Oppie Koppie kry drie splinternuwe klaskamers

’n Kleuterskool (Oppie Koppie) in Prince Alfred Hamlet, Ceres, spog nou met drie splinternuwe klaskamers. Die amptelike opening van die nuwe klaskamers was Vrydag 1 Februarie.


’n Kleuterskool (Oppie Koppie) in Prince Alfred Hamlet, Ceres, spog nou met drie splinternuwe klaskamers. Die amptelike opening van die nuwe klaskamers was Vrydag 1 Februarie.

Die bou van die nuwe klaskamers is moontlik gemaak deur Coca-Cola, in samewerking met ander rolspelers soos die Rotariërs, Vuya-stigting en Henkel South Africa.

Die skoolhoof, Wilhelmina Baird, sê toe die kleuterskool in 2010 oopgemaak het, was daar plek vir slegs 76 kleuters. Vandag word 150 kleuters tussen 3 en 6 jaar oud by Oppie Koppie gehuisves. “Die aanvraag na ’n kleuterskool het groter geword.”

Sy sê die kleuters se omstandighede by die huis is nie altyd breed nie. “Die kinders se ouers is hoofsaaklik seisoenwerkers. Soms is daar nie iets te eet by die huis nie, maar ontbyt en middagete word hier bedien.”

Met die kleuterskool se groei, lê daar nou meer werk voor. “Natuurlik sal daar nou groter uitdagings en meer verantwoordelikhede wees, maar die personeel is hardwerkend, ywerig en gereed vir die uitdaging.”

Sy beklemtoon die belangrike rol wat die vroeë ontwikkeling in ’n kind se lewe speel. “Vroeë ontwikkeling in ’n kleuterskool dien as ’n bousteen in kleuters se lewe voordat hulle na die groot skool toe gaan.”

Priscilla Urquhart, Coke se woordvoerder, sê Coke is trots dat hy deel was van die projek om by te dra tot die groei van die gemeenskap. “Ons glo dat kinders toegerus moet wees met geriewe en boustene om vir hulself ’n blink toekoms te bou.”

Mercia Isaacs, stigter van Vuya-stigting, sê die opening van die nuwe klaskamers by Oppie Koppie is ’n droom wat waar geword het. Sy het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die rolspelers wat die projek moontlik gemaak het. “Wanneer ons gee moet ons dit doen met ’n hart wat verstaan.”

Isaacs het gespog met die vooruitsig van ’n rekenaarlokaal wat by Oppie Koppie gebou gaan word vir die leerders, onderwysers en die gemeenskap.

You need to be Logged In to leave a comment.